Laerskool Rapportryer het weer vanaf 5 tot 12 September hul jaarlikse musiekblyspel aangebied en is trots om te sê dat elke optrede ‘n groot sukses was.
Volgens die skakelbeampte van Laerskool Rapportryer, Roleen Olivier, het vanjaar se musiekblyspel weer groot aftrek geniet.
Sy vertel dat vanjaar se musiekblyspel weer ‘n onvergeetlike geleentheid was en dat elkeen wat dit bygewoon het dit terdeë geniet het.
“Vanjaar se tema was Mosaik en elke groep leerlinge het hul eie dansitem opgevoer.
“Op dié wyse het al die kleiner dele van die produksie ‘n pragtige geheel gemaak,” vertel Roleen.
“Elke aand was ‘n reuse sukses en die saal was aand na aand stampvol om ons leerlinge in aksie te sien.
“Die gehoor het elke aand saam hande geklap en die leerlinge meer en meer gemotiveer om hul beste te gee.”
Roleen vertel verder dat die leerlinge dit baie geniet het om die produksie op die planke te bring.
“Namens Laerskool Rapportryer se bestuur bedank ons elke persoon wat die musiekblyspel bygewoon het.
“Julle het dit vir die leerlinge die moeite werd gemaak om aand na aand op die verhoog te verskyn,” vertel Roleen.



