Hoërskool Riebeeckrand se junior-verteenwoordigende leerlingraad (VRL) het beslis aandag getrek toe hulle op 4 Oktober die skool se jaarlikse jaareindbal aangebied het.
Volgens Leona Esterhuizen, organiseerder van die bal en onderwyser by Hoërskool Riebeeckrand, was die aand ‘n groot sukses en het elke leerling die geleentheid terdeë geniet.
“Die meisies het almal pragtig gelyk, maar kort voor lank is hul hakskoene uitgetrek en het hulle kaalvoet die aand verby gedans. Die seuns het ook uitgevat gelyk en soos ware here opgetree,” vertel Leona.
Die bal het tot middernag geduur en teen die einde van die aand was almal pootuit.
Die leerlinge van Hoërskool Riebeeckrand bedank vir Leona Esterhuizen en Barbara Scholtz vir al hulle moeite tydens die organisering van die suksesvolle geleentheid.



