Hoërskool Riebeeckrand se krieketspelers het vanjaar ‘n puik seisoen geniet en het na ‘n strawwe seisoen as ligawenners uit die stryd getree.
Volgens die bemarker by Hoërskool Riebeeckrand, Rickus Kruger, het beide die junior en senior krieketspanne hul liga gewen. Dit nadat die junior 20 boulbeurt krieketspan, wat as die Charlies bekend staan met Hoërskool Monument se junior span in die finaal van die liga afgereken het.
“Ons junior manne het tydens die finaal ‘n baie goeie wedstryd geniet en die manne van Monnas met agt paaltjies geklop,” vertel Rickus trots.
“Ons skool se senior spelers het in die 50 boulbeurt semi-finaal teen Hoërskool Jan Viljoen te staan gekom en weereens gewys dat dié span vir niemand terug staan nie. Riebeeckrand het tydens die kragmeting ‘n agt paaltjie oorwinning geniet.”
Hoërskool Riebeeckrand se senior manne sal op 12 Oktober teen Hoërskool Monument in die finaal te staan kom.
Rickus vertel dat hy en die res van die Hoërskool Riebeeckrand bestuur baie trots is op hul krieketspelers.
“Dié krieketspelers het baie hard gewerk om die puik resultate te kry. Julle harde werk en getrouheid is werklik iets om na te streef. Baie geluk met julle prestasies,” vertel Rikus.



