Hoërskool Jan Viljoen se pom-pom-groep het weer vanjaar bo die kompetisie uitgestaan en hul merk by beide die Raca Kunsefees en die Nasionale Eisteddfod (NEA) gemaak.
Volgens die hoofafrigter van dié pom-pom-groep, Tamaryn Smith, het die groep dansers vanjaar groot sukses geniet en gewys dat hulle beslis al die prestasies wat hulle bereik het verdien.
Sy vertel verder dat dié groep tydens vanjaar se Raca Kunstefees baie goed gevaar het en hulself van ‘n diamant toekenning verseker het. Dit nadat hulle 96 persent vir hul optrede behaal het.
“Hulle was ook tydens die Raca Kunstefees as kategoriewenners aangewys,” vertel Tamaryn.
Met puik uitslae tydens die Raca Kunstefees, was die pom-pom-groep vuur en vlam om hul merk tydens die Nasionale Eisteddfod te maak.
Hulle het op 9 Oktober by die Eisteddfod opgetree en beslis die beoordelaars beïndruk.
Tydens die NEA ontvang die groep ‘n diploma en wys weer dat hulle die beste in die weste is.
“Ek is werklik trots op die groep dansers. Hulle het baie hard geoefen en gewys dat hulle tops is,” vertel Tamaryn.
“Ons oudisies vir volgende jaar se pom-pom-groep het op 24 Oktober plaasgevind.”
Tamaryn vertel dat hulle weer vanjaar vroeg met die oudisies begin het om sodoende weer vroeg te kan begin oefen aan volgende jaar se roetine.
Die pom-poms het ook weer vanjaar ‘n asemrowende jaarafsluiting op 25 Oktober geniet en kan beslis sê dat hulle die jaar op ‘n hoë noot afgesluit het na hulle optrede by die NEA.
“Ons as pom-pom-groep bedank al ons borge vir hul bystand en hulp gedurende die jaar asook elke ondersteuner wat ons regdeur die jaar so goed bygestaan het,” vertel Tamatyn.
“Dankie ook aan ons choreograaf, Mario Gomes, vir al sy harde werk en al die tyd wat hy afgestaan het om dié groep van sukses te verseker.”



