Hoërskool Jan Viljoen het weer vanjaar hul jaarlikse 9/ 18 uur Marathon aangebied en weereens groot aftrek van die gemeenskap geniet.
Volgens die hoof van Hoërskool Jan Viljoen, Julius Katzke, merk vanjaar die 14de jaar wat Jannas dié marathon aanbied.
“Vanjaar se marathon was weer baie goed ondersteun en kleuterskole, laerskole, hoërskole, individuele atlete en selfs atletiekklubs het die geleentheid bygewoon en aan die marathon deelgeneem,” vertel Julius.
Hy vertel verder dat ‘n totaal van 10 012 kilometer tydens die marathon afgelê is.
“Dit is ‘n reuse hoeveelheid kilometers wat deur ons deelnemers afgelê is en dit spreek beslis van die reuse sukses wat vanjaar se marathon geniet het,” vertel Julius.
Hy vertel verder dat behalwe vir die atletiekklubs en individuele atlete, het daar drie kleuterskole, 8 laerskole en 9 hoërskole aan die geleentheid deelgeneem.
Die bestuur van Hoërskool Jan Viljoen bedank vir Johan Booysen, eienaar van EPR, vir sy reuse borgskap, die gedrukte programme, medaljes en T-hemde, asook vir Chris en Ria Bornman vir die organisering van die wedloop.
“Laastens bedank ons elke individuele atleet, atletiekklub en skool wat ons weer vanjaar so goed ondersteun het. Ons waardeer dit opreg,” vertel Julius.



