“Laerskool Randfontein het weereens bewys dat ons ‘n skool is om mee rekening te hou tydens 2013.”
Dit die woorde van waarnemende hoof, Francois Coetzee.
Hy vertel dat om die jaar van 2013 in ‘n paar woorde op te som nie maklik is nie en dat die beste beskrywing aksiebelaaid met baie hoogtepunte en ‘n paar laagtepunte is.
Die grootste hoogtepunt was toe Ram deur die NEA as Kultuurskool van 2013 aangewys is.
“Verskeie van ons leerlinge het deurgedring tot op Nasionale vlak in hul onderskeie sportsoorte en kultuuraktiwiteite, met ontelbare oorwinnings op die sportveld en verhoog,” vertel Francois.
Ander hoogtepunte sluit die Goudfees in, waar meer as ‘n duisend kleuters rugby en netbal gespeel het. Die vele winsgewende entrepreneursmarkte, waar die leerlinge hul eie sakgeld kan verdien en een van ons leerlinge het ‘n Nasionale skryfkompetisie met reuse prysgeld gewen.
“Ons het egter ook ‘n traan of twee gestort met die aftrede van Frik van den Berg en die afsterwe van twee van ons onderwyseresse se lewensmaats en ‘n paar geliefde ouers. Dis nie maklik om ‘n Rammie onder te kry nie en met ons oë gerig op Jesus Christus, ons rots en verlosser, het ons sterker anderkant
uitgekom.”
Ram is geseën met die aanstelling van Diane Matthews as nuwe adjunkhoof en Francois Coetzee as waarnemende hoof.
“Daar het baie positiewe verandering plaasgevind en Ram is terug op die pad van sukses,” vertel Francois.
Die hoof en personeel van Laerskool Randfontein wil van die geleentheid gebruik maak om hul ouers, leerlinge, die gemeenskap en beheerliggaam te bedank vir hul bydrae om van 2013 so ‘n suksesvolle jaar te maak.
“Mag elkeen van die lesers ‘n onvergeetlike Christusfees die Kersseisoen beleef. Rus goed en lekker uit, sodat ons 2014 met nuwe lewenslus en ywer kan aanpak en suksesvol kan stap in die naam van Jesus Christus.”



