Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) het die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, se aankondiging dat daar ‘n verbetering in die Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae was, verwelkom.
“Ons weet dat die Minister erns het om die onderwysstelsel in Suid-Afrika te verbeter en dit lyk of haar departement se harde werk begin vrugte afwerp,” sê Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep.
Engels word deur die meeste leerlinge as eerste addisionele taal geneem, met Afrikaans tweede en Zoeloe derde.
“Dit is vir ons verblydend dat soveel leerlinge Afrikaans as eerste addisionele taal kies,” sê Japie.
“Die ATKV se taalprojekte is veral gewild onder eerste en tweede addisionele taalsprekers en dit maak dat Afrikaans as gebruikstaal groei.”
Japie stem egter saam met Graeme Bloch van die Wits-skool vir openbare en ontwikkelingsbestuur dat daar nog baie werk te doen is ten opsigte van die kritiek wat teenoor die stelsel bestaan, soos onder andere lees- en wiskundevaardighede.
Een van die grootste probleme in die onderwysstelsel is steeds dat kinders wat skool begin nie by matriek uitkom nie.
Van die 1,26 miljoen graad 1 leerlinge wat in 2002 begin skoolgaan het, het 439 779 – of te wel 34,9 persent in 2013 graad 12 geslaag.
In 2012 het 33,4 persent van die 2001-graad 1 leerlinge en in 2011, 33,0 persent van die 2000-graad 1 leerlinge, matriek verwerf.
Dit beteken dat meer as 65 persent van kinders wat graad 1 begin, nooit by matriek uitkom nie.
In terme van die 2013-resultate, beteken dit dat meer as 800 000 kinders elke jaar nie hul matrieksertifikaat bekom nie.
Daar is natuurlik kommer oor die stand van wiskunde en wetenskap in die onderwysstelsel.
Van die meer as 560 000 leerlinge wat matriek geskryf het, het net ongeveer 98 000 of 17,4 persent meer as 40 persent in wiskunde verwerf en ongeveer 78 000 of 14,0 persent meer as 40 persent in wetenskap.
“Dis kommerwekkend indien die behoeftes en geleenthede wat in Suid-Afrika bestaan in ag geneem word,” vertel Japie.
“Onderwys is een van die ATKV se vier hooffokusse en ons moedig alle individue, organisasies en besighede aan om op welke wyse ook al by onderwys betrokke te raak.”
Die ATKV het verskeie projekte wat veral gemik is om by onderpresterende skole ‘n verskil te maak.
“Baie geluk aan al die 2013-matrieks wat goed presteer het. Die ATKV is trots op julle,” vertel Japie ten slotte.



