Talle leerlinge van Hoërskool Jan Viljoen het op 8 Februarie hul merkwaardige talente tydens dié skool se jaarlikse talentaand ten toon gestel.
Volgens een van die onderwysers by Hoërskool Jan Viljoen, Magdie Vermeulen, het die leerlinge wat tydens die geleentheid opgetree het, baie hard geoefen om te verseker dat die geleentheid ‘n sukses is.
“Die leerlinge wat deelgeneem het, het die geleentheid baie geniet en werklik met hul Godgegewe talente gewoeker,” vertel Magdie.
Met ‘n saal vol gaste, was dit vir elke Jannas-leerling ‘n groot voorreg om op die verhoog te verskyn en die gaste met hul talente te vermaak. Elke leerling wat op die verhoog verskyn het, het die toeskouers se asem weggeslaan met hul sang, dans, klavier-en kitaarspel.
Om die aand meer interesant te maak het twee dansgroepe van Mario Gomes Hip Hop Dance Academy, by die geleentheid opgetree.
Selfs die onderwysers van Hoërskool Jan Viljoen het kom wys dat hulle ook nog ‘n talent of twee het om mee te spog toe hulle voor en na die afloop van die pouse ‘n item gelewer het
“Ek is werklik trots om deel van dié skool te wees. Dit is merkwaardig om te sien dat daar soveel talentvolle leerlinge is wat aan die geleentheid deelgeneem het. Daarom bedank ek elkeen van dié leerlinge en onderwysers vir hul bydra tot die sukses van die aand,” vertel Magdie.
Magdie bedank ook vir Mario Gomes wat sy dansers beskikbaar gestel het om by die geleentheid op te tree.



