Hoërskool Jan Viljoen se pom-pom-dansers, wat al vir die afgelope twee jaar die verdedigende kampioene van die Randfontein Skou Pom-Pom kompetisie is, is slaggereed vir nog ‘n titanise stryd tydens die Randfontein Skou.
Volgens die spanbestuurder van die Jannas Pom-Poms, Retha Rossouw, weet hulle dat vanjaar se kompetisie geweldig sterk gaan wees en dat hulle beslis hul beste moet gee om weer as kampioene uit te tree.
“Vanjaar is ons onder geweldige druk as die verdedigende kampioene, maar ek glo dat die beste groep sal wen en met ‘n afrigter en choreograaf soos Mario Gomes, staan ons ‘n baie goeie kans,” vertel Retha.
Mario Gomes, die eienaar van Mario Gomes Hip Hop Dance Academy, het gedurende November 2013 aan die Wêreld Hip-Hop Kampioenskappe in Kopenhagen deelgeneem en, volgens Retha, tydens die geleentheid baie nuwe vaardighede en idees gekry wat die Jannas Pom-Poms sal help.
Sy verduidelik verder dat hul groep vanjaar uit 36 lede bestaan. Die helfde van dié dansers is dogters en die ander helfde seuns.
Die seuns is in twee groepe gedeel, waarvan 11 seuns die lugtoertjies en optel van ander dansers sal behartig, terwyl sewe van die seuns saam met die dogters op die dansroetine sal fokus.
“Aangesien ons vorige kaptein, Elouise Oberholzer, verlede jaar haar skoolloopbaan voltooi het, is Veronique Rossouw vanjaar as die nuwe kaptein aangewys.
“Sy en haar span oefen al reeds van Januarie af om hul roetine baas te raak,” vertel Retha.
Die Jannas pom-poms weet dat vanjaar ‘n strawwe kompetisie gaan wees, en wens elke span wat deelneem by die Randfontein Skou alle sterkte toe vir die kompetisie en die jaar wat voorlê.
“Ons doen ‘n beroep op alle leerlinge van die deelnemende skole om hul pom-poms te kom ondersteun.
“Dit is die toeskouers wat ons as Jannas pom-poms motiveer op die verhoog en dit is altyd lekker om ‘n groot groep mense by die kompetisie te sien,” vertel Retha.



