Kliekclick se skryfkompetisie
Aspirant- en gesoute skrywers kan nou vir die nuwe skryfkompetisie inskryf wat deur Kliekclick aangebied word.
Kliekclick stel ’n skryfkompetisie bekend vir ’n baie spesiale Afrikaanse publikasie.
Volgens die organiseerder van dié kompetisie, Samantha Buitendach, kan enigiemand vir die kompetisie inskryf.
“Dit maak nie saak of jy al vir jare lank skryf en of jy eers onlangs begin skryf het nie. Almal is welkom om deel te neem aan die kompetisie,” vertel Samantha.
Sy sê dat hulle stories vir lesers van ongeveer nege tot 12 jaar oud soek.
Deelnemers kan in twee verskillende kategorië inskryf. Dié kategorië is kort stories van 100 tot 500 woorde wat die lesers lekker bang sal maak of laat lag en liefdesverhale van 1 000 tot 3 000 woorde wat dié teikenlesers sal kan geniet.
Verhale vir dié publikasie sal op grond van oorspronklikheid, kreatiwiteit en vermaaklikheid gekies word en lekkerlees is die kode-woord van dié inskrywings.
Samantha vertel dat Kliekclick ‘n tweeledige doelwit met dié kompetisie het.
“Eerstens wil ons jong Afrikaanse lesers aanmoedig om te lees en dit te geniet en tweedens wil ons ongepubliseerde Afrikaanse skrywers help ontwikkel en ervare skrywers ’n nuwe publikasiegeleentheid gee,” vertel Samantha.
Pryse op die spel sluit Kalahari.com-geskenkbewyse in.
Die sluitingsdatum is 30 April en inskrywings kan per e-pos (sam@buitendach.co.za) of per facebook-boodskap by https://www.facebook.com/kliekclick ingestuur word.
“Die karakters in die stories moet kinders wees en Afrikaans praat soos kinders van vandag. Die stories moet oor goed gaan wat vir die kinders snaaks of vreesaanjaand is,” vertel Samantha.
Alle stories moet elektronies ingestuur word. Indien jy ’n aanhangsel gebruik, moet dit in ‘n Word-formaat wees.
“Indien jy voor die tyd klaar is, stuur solank jou storie in met jou naam en van, die tipe storie wat jy geskryf het (bangmaak, snaaks of liefdesverhaal), jou ouderdom en geslag, jou e-posadres en/ of selfoonnommer, en jou ouer/ voog se kontakbesonderhede indien jy onder die ouderdom van 18 is.”
Volgens Samantha is daar talle groot pryse op die spel, “Die beste prys is natuurlik dat jou storie in die nuwe geheime publikasie ingesluit sal word. Daar sal ook ’n kort onderhoud met jou gevoer word en jou foto sal in sosiale media gepubliseer word,” vertel Samantha ten slotte.



