Eienaar voel glo vere vir sy diere – DBV gryp in
Boete wag heel moontlik vir die eienaar van die perseel.
Die Randfontein Dierebeskermingsvereniging (DBV) moes inspring en help nadat ‘n man glo sy diere op ‘n plot in Pelzvale letterlik soos honde behandel het.
‘n Aantal diere is Vrydag 27 Februarie van sy eiendom verwyder nadat bure ‘n klag van ernstige diereverwaarlosing op die perseel by die DBV aangemeld het.
Janette Muller van die DBV het die eienaar van diere gekontak. Volgens haar het die man gesê hy is in ‘n hospitaal in Rustenburg.
Nicolene van der Walt, een van sy bure het egter gesê, “Dit is absoluut ‘n leuen. Hy vertel graag sulke stories om homself uit die moeilikheid te kry.”
Van der Walt beweer die man en sy vrou kuier eintlik al ‘n maand lank in Orkney by hul dogter. Van der Walt beweer verder dat daar al drie honde op die perseel dood is.
Volgens die man het hy sy seun gevra om die honde elke dag te voer. Van der Walt meen dit is nie die geval nie en sy moes uit haar eie sak kos vir die honde gaan koop en oor die muur vir hulle gooi. Muller het bevestig dat sy die seun gekontak het en dat hy gesê het hy is nie gevra om die honde te voer nie.
Daar was agt honde op die perseel toe die herald saam met die DBV gaan ondersoek instel het. Die honde was baie maer en verwaarloos en het die kos wat Muller oor die hek vir hulle gegooi het omtrent verslind.
Die besluit is toe geneem om die meeste van die honde van die perseel te verwyder en na die Randfontein DBV-tak te neem vir veilige bewaring tot die man hulle kon kom haal.
Daar was geen kos op die perseel nie en die enigste water wat die diere gehad het om te drink was groen, vrot water wat ‘n voet diep in die feitlik leë swembad op die erf gelê het.
Muller het bevestig dat dit al die tweede keer is dat honde van die man se perseel verwyder is.
“Dit breek my hart om die honde in so ‘n toestand te sien. Ek wil net die mense vra om asseblief vroegtydig sulke sake by ons te rapporteer en nie eers ‘n week of twee te wag nie. Ons gaan die honde by ons tak versorg tot hy terug is. Hy kan ook beboet word,” het Muller afgesluit.










