CrimeLocal newsNews

Diewe teiken twee besighede op een dag

Eienaar geskok toe hy net na 7vm die besighede oopsluit en sien dit is beroof en geplunder.

Twee besighede in die middestad het groot skade gelei toe diewe verlede Vrydag 6 Maart ingebreek het.

Emson Mamaila, eienaar van die haarsalon A2Pay asook ‘n selfoonwinkel sê dit was ‘n groot skok toe hulle net na 7vm die besighede oopsluit en sien dit is beroof en geplunder. Die diewe het glo by die dak ingekom.

“Ek het dadelik die polisie geskakel en gevra om uit te kom omdat die toerusting wat hulle gebruik het sommer so gelos is en daar was duidelike vingerafdrukke op die muur. Die Randfontein Polisie het gesê hulle stuur iemand sodra daar ‘n voertuig beskikbaar is,” het Mamaila vertel.

Na glo twee ure se wag het die eienaar besluit om self polisiestasie toe te gaan om te hoor hoe lank dit nog gaan neem.

Volgens Mamaila het een van die offisiere op diens vir hom gesê ‘n saak kan nie oopgemaak word as hy nie presies weet wat gesteel is nie.

“Ek het hom vertel ons nie wou nie die toneel omkrap of die vingerafdrukke laat verdwyn nie. Ek is toe vertel om te gaan kyk wat weg is en hulle sal iemand uitstuur na my perseel in Southlandstraat,” het Mamaila vertel.

Mpho Pitso, verkoopsdame by A2Pay het toe die Daily Sun koerant en herald geskakel om hulle die storie te vertel. Sy sê eers hierna het die polisie opgedaag.

“Ons was dankbaar die polisie het uitgekom maar ek is baie teleurgesteld in die tydsame manier wat hulle dit gedoen het. Die forensiese span het eers Saterdag hier aangekom. Ons moes die deure al die tyd toe hou en geld verloor,” het Pitso teleurgesteld vertel.

Volgens Kaptein Appel Ernst was die polisie Vrydag ongeveer 2nm op die toneel en is ‘n saak oopgemaak. Ernst het verduidelik ‘n interne ondersoek is oopgemaak ten opsigte van die heen en weer gestuur van die mense deur die beamte op diens.

Daar is nog geen arrestasies gemaak nie.

Vir meer foto’s kliek hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button