Ouers speel met kinders se lewens
Insident waar kind by venster uithang terwyl motor beweeg glo strydig met die padverkeersreëls.
‘n Bewegende motor is onlangs in Homesteadlaan afgeneem terwyl kinders by die vensters uithang.
‘n Erg bekommerde motoris wat agter die betrokke voertuig gery het, het ‘n foto daarvan geneem omdat hy voel dat die kinders in die voertuig in gevaar was.
“Ek wil net vir die bestuurder van daardie motor sê: Miskien gee jy nie om vir die veiligheid van jou kinders nie maar ek doen dit wel en dink dit is baie onverantwoordelik van jou,” het die motoris, wat anoniem wil bly, gesê.
Op die Arrive Alive-webblad word die Departement van Vervoer se reëls ten opsigte daarvan goed uiteengesit, en bepaal dat geen deel van die voertuigbestuurder of passasier se liggaam by die voertuig mag uitsteek terwyl die voertuig beweeg nie. Die uitsondering is slegs indien handseine gegee moet word, en geld net die bestuurder.
Die reëls bepaal verder dat almal in die voertuig – voor en agter – ‘n veiligheidsgordel moet dra, terwyl kinders onder drie jaar in ‘n babastoeltjie vasgegordel moet wees.
Meer en meer padreëloortreders word nou op ‘n webblad met die adres ‘Drive Like A Chop’ aan die kaak gestel. Daar kan ‘n foto met ‘n beskrywing van die voorval op die webblad geplaas word. Die webbladadministreerders het ongelukkig nie die gesag om voorvalle op te volg en die motoris te laat beboet nie.
Ongelukke waarin kinders betrokke is wat nie vasgegordel is nie, kan noodlottig wees aangesien die kinders gewoonlik uit die voertuig geslinger word.




