Local newsNewsBreaking News

Sibanye Gold se R12 miljard projek

Boere ontsteld oor projek wat op hul grond beplan word.

‘n Dagblad het onthul dat Sibanye Gold glo beplan om mynhope by Carletonville en Westonaria saam te voeg in ‘n megamynhoop wat so groot soos 2 700 rugbyvelde en 100 meter hoog kan wees.

Die projek gaan die myngroep glo R12 miljard kos.

Volgens berigte sal die goud, uraan en swaeldioksied uit die ou mynafval onttrek, verwerk en verkoop word. Die oorblywende mynslik en afvalwater sal glo met pypleidings van sowat 120km lank na ’n stuk grond van 1 350 hektaar suid van die myndorpe en wes van Sebokeng en Vereeniging gepomp word.

Volgens Sibanye Gold is die vernaamste rede vir die projek om te voorkom dat die tonne uraan wat jaarliks in die Wonderfonteinspruit en later in Potchefstroom se drinkwater beland, dié bron verder besoedel.

Die gehalte van Potchefstroom se drinkwater sal glo dan aansienlik verbeter.

Boere wat grond naby die Leeuw­spruit het is glo uiters ongelukkig oor die projek omdat die mynafval hul landerye én waterbronne gaan besoedel.

Rex Zorab, ‘n Sibanye Gold-konsultant het gesê hulle het met hierdie projek ‘n kompromis aangegaan. Daar is afgesien van planne vir ’n megahoop wat vyf jaar gelede vir Kalbasfontein by Fochville, sowat 25km wes van die huidige projek beplan is omdat die boere so daarteen gekant was.

Daar is steeds mense wat ontevrede is. Die grootste gedeelte van die megahoop-mynafval sal op Sibanye se grond wees, en die deel wat nie aan die myn behoort nie, is glo by ‘n boer gekoop.

Zorab het egter gesê dit is vir hulle onmoontlik om al die boere in die omgewing uit te koop.

Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO) het gesê hulle steun die projek op voorwaarde dat ’n deel van die wins uit die herwinning van die minerale gebruik word om die gebied by die Wonderfonteinspruit behoorlik te rehabiliteer.

Die radioaktiewe afval waarmee dit besoedel is, veroorsaak volgens Liefferink

… ’n geweldige gemors aan die Wes-Rand en die verre Wes-Rand.”

Sy het die omstandighede so aan die Herald verduidelik.

“Die projek moet gesien word in die lig van die aanbevelings van die Departement van Minerale Hulpbronne en die Raad vir Geowetenskappe se verslag Regional Mine Closure Strategies for the West and Far West Rand Goldfields en die huidige situasie by Blyvooruitzicht wanneer ‘n myn gelikwideer word.

Dit gaan nie hier net oor een of twee grondeienaars se besware teen die projek sodat hulle kan munt slaan uit die verkoop van hul grond, of oor die korttermynvoordele vir ‘n paar grondeienaars nie.

“Daar moet aan die belange van toekomstige geslagte gedink word en die medium- en langtermynvoordele wat so ‘n projek inhou, veral dat die grond en die water na die sluiting volhoubaar gebruik sal kan word.”

Die FVO meen ook Sibanye Gold moet ’n kans gegun word om die gebied te herstel. Daar is glo 170 miljoen pond uraan en 11 miljoen fyn onse goud in die afval.

Die projek sal ongeveer 16 jaar duur en glo baie werksgeleenthed skep, aangesien daar vanjaar reeds 24 000 werksgeleenthede verlore gegaan het omdat die goudmynbedryf feitlik tot stilstand gekom het.

Enige kommentaar oor die voorinpakverslag is welkom. Kommentaar kan tot en met 15 Oktober gelewer word. Kommentaar kan gerig word aan Grant.Stuart@sibanyegold.co.za en vanessa.viljoen@digbywells.com.

Die Herald het James Wellsted van Sibanye Gold probeer kontak vir verdere kommentaar.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button