Wie was eerste ? Die hoender of die eier?
By die veelsydige besigheid is eiers, hoenders, kompos en hoendermis te koop.
Die Herald het op ‘n veelsydige familiebesigheid in Hillside afgekom waar talle vra oor pluimveeboerdery beantwoord is – maar die vraag of die hoender of die eier eerste was, bly nog onbeantwoord.
Die familie besit twee besighede naamlik Vervoor Pluimvee en Berona Kwekery. Bettie en Hendrik Snyders het die pluimveeboerdery begin en dit bestaan al langer as 60 jaar. Berona Kwekery bestaan ook al 40 jaar.
By die pluimveeboerdery word eiers, hoenders, kompos en hoendermis verkoop en by die kwekery word bome, saailinge, struike en vele meer te koop aangebied.
Die Snyderse het voor hul aftrede hul besigheid aan hul twee dogters, Christa van Heerden en Judie Louw oorgegee. Christa en haar man, Willie van Heerden het Vervoor begin behartig en Judie het Berona Kwekery oorgeneem.
Christa se dogters, Karien Lubbe en Elmi Smit – die volgende generasie aan die stuur van die onderneming – is hard aan die werk om die besighede te laat floreer en suksesvol te hou nes hul voorgangers. Ruan, Karien se man, is reeds byna ses jaar by Vervoor betrokke en sy hande staan vir niks verkeerd nie.
Volgens Ruan, 31, is daar 11 groot hokke waarin duisende hoenders elke dag eiers lê. Hulle gebruik ‘n ten volle outomatiese stelsel waarvolgens die eiers, van waar die henne dit gelê het, met vervoerbande geneem word tot waar dit verpak word. Mensehande hanteer dit glad nie.
Elke eier word met ‘n outomatiese eierskaal geweeg, wat die eiers dan volgens grootte sorteer. Die verpakte eiers word met vragmotors na groot dele van Gauteng geneem waar dit aan restaurante, verspreiders en groothandelaars verskaf word.
Lohman-, Hy-Line en Amberlink-henne word vir die pluimveeboerdery gebruik. Die henne word op ongeveer 18 weke aangekoop, net voordat hulle begin eiers lê. Tot en met 60 weke lê die henne op top produksie een eier per dag.
Dit neem af namate die henne ouer word, wat ongeveer 75 tot 80 weke is. Die hoenders word dan aan die informele mark verkoop. Die hoenders word ook volgens ouderdom in verskillende hokke geplaas. Henne lê eiers regdeur deur die jaar.
Voer en water is uiters belangrik vir die hoenders aangesien dit die kwaliteit van die eier bepaal. Vervoor gebruik twee verskillende tipes lêmeel – minstens 56 ton daarvan per week. Die tipe lêmeel wat die hoenders kry hang af van hul ouderdomme.
Hoendermis word onverwerk aan boere verkoop, wat dit gebruik vir hul groentegewasse. Die kompos, wat bestaan uit hoendermis en saagsels, word in los maat verkoop.
Op die perseel is daar 20 werkers wat sorg dat alles vlot verloop en saam met die bestuurspan maak almal van dié familiebesigheid ‘n reuse sukses.
Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.
Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!