CrimeNews

Twee gearresteer in middedorp-drama

Twee mans – een 'n onwettige immigrant, die ander in besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen – in die middedorp aangekeer.

Groot drama het onlangs in die Randfontein-middedorp afgespeel toe twee mans gearresteer is – een vir besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en die ander ‘n onwettige immigrant.

Die voorval het Woensdagaand (7 Desember) plaasgevind.

‘n Betroubare bron – wat op die toneel was – het aan die Herald verduidelik, “Ek het ‘n geraas buite gehoor en die polisie gewaar waar hulle twee persone gearresteer het. Ek het gehoor dat ander omstanders bespiegel het dat dit onwettige myners is wat by ‘n roof betrokke was.

Daar is ook beweer dat ‘n trok gekaap is en iemand in die trok ontvoer is.”

Kaptein Appel Ernst, Randfontein Polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê, “Die polisiebeamptes het inligting ontvang van ‘n rusie op die R28. Hulle het daarop gereageer. Met hul aankoms op die toneel was daar nie tekens van ‘n bakleiery nie. Die polisie het egter verneem dat daar wel ‘n rusie was omdat ‘n man glo van sy goud beroof is.”

Volgens Ernst het polisiebeamptes verdere inligting ontvang dat die roofverdagtes gewapen was en in die rigting van Randfontein gevlug het. Die lede het ook die persoon ondervra wat na bewering beroof is, en hy kon ‘n beskrywing van die verdagtes gee. Daar is geen melding gemaak dat ‘n trok gekaap is nie, net dat goud geroof is. Die polisiebeamptes het versoek dat die persone ‘n saak van roof open maar niemand wou ‘n verklaring aflê nie.

Sy het verder gesê dat die polisiebeamptes egter die inligting oor die gewapende verdagtes opgevolg het en later patrollies in die Dick Powell-area gedoen het. Daar het hulle die twee verdagtes gewaar wat aan die beskrywing voldoen het. Die twee mans is deursoek en ‘n ongelisensieerde vuurwapen is by een van hulle gekry. Albei mans is gearresteer – die een vir besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en die ander ‘n onwettige immigrant.

Die polisie was verbaas toe die vermeende ‘roofslagoffer’ saam met ander mans op die toneel van die arrestasies opgedaag het. Hulle wou die verdagtes glo verder aanrand.

Die polisielede het weereens versoek dat ‘n verklaring oor die beweerde roof afgelê word, maar nie een van die mans wou dit doen nie.

Kaptein Ernst het gesê dat daar nooit aan hulle gemeld is dat iemand ontvoer is nie.

“Almal was net bekommerd oor die goud. Daar is geen goud by die mans gekry nie,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat daar ook geen verklaring oor die beweerde kaping van die trok of ontvoering by die Randfontein- of Krugersdorp-polisiestasie afgelê is nie.

Randfontein Polisie ondersoek wel die besit van die ongelisensieerde vuurwapen teen die een verdagte terwyl die onwettige immigrant in die sorg van Binnelandse Sake geplaas is met die oog op deportasie.

Lees Meer:

ATM bombing: EPR’s brush with robbers

EPR responds to incident

EPR officer denies being in the wrong

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button