Laerskool Rapportryer het op Valentynsdag nie net die maand van liefde gevier nie maar wou ook graag liefde uitdeel deur ongeveer 4 000 liter water aan die Kaap te skenk.
Cargo Logistics se trok het skaars gestop, toe begin die leerders al die bottels oplaai. Party het maar swaar gedra, maar met ‘n glimlag op hul gesiggies. Die waterprojek vir die droë Kaap is in Randfontein begin.

Laerskool Avante Primary gaan ook Vrydag, 16 Februarie, die water wat hulle bymekaar gemaak het, Kaap toe stuur.
“Die leerders was baie gretig om te help met die projek, en ons as skool is trots daarop dat ons kan help waar daar nood is,” het Roleen Olivier, Rappies se woordvoerder gesê.
Isabel Coetzee, wat die projek van stapel gestuur het, het gesê dat haar inspirasie gekom het van Hendrik van Wyk, toe hy die veevoer na die droogte geteisterde Kaap toe geneem het.

“Ek moes net iets doen om te help en het begin deur water in te samel,” het sy vertel. Sy het gesê Hendrik se daad het haar hart geraak en daarom wil sy soveel as moontlik water bymekaarmaak vir haar medemens.
Die eerste 30 000 liter water is vroeg in Januarie met Tambotie Mall se samewerking Kaapstad toe gestuur.
Die vrag wat Rappies en ander instansies tans volmaak gaan Beaufort-Wes toe.

“Ek het almal in Randfontein gevra om deur die skole betrokke te raak. Rappies het eerste gereageer en daarna Avante. Die kinders en ouers is fantasties,” het sy verder gesê. “Carmen van Cargo Logistics het aangebied om water oral op te laai en by Sakkie’s Poultry naby Cook 1 af te laai – gratis! Hoe awesome is dit nie?”
Franco Joubert kom van Bloemfontein af om die water op te laai en gratis Beaufort-Wes toe te neem.

“Elke mens en dier is afhanklik van water en droogte ken nie kleur of geur nie. Die droogte raak ons almal op die een of ander manier,” het Isabel gesê.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at randfonteinherald@caxton.co.za (please remember to include your contact details in the email) or phone us on 011 693 3671.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!



