Mej Randfontein se eerste plan vir die dorp
Ons nuwe Mej Randfontein (18+) Clarisse Visser het 'n plan vir die dorp.
Die grimering, ekstra aandag en titel as die nuwe Mej Randfontein (18+) is net ‘n bonus vir Clarisse Visser. Sy wil eerder ‘n groot verskil in haar dorp maak.
Clarisse was in April een van talle wat gekroon is tydens die Mnr, Mev en Mej Randfontein-kompetisie en bemagtigingsprogram wat by Vredenvlucht Venue in Loumarina gehou is. Haar titel is dié van Mej Randfontein in die kategorie vir deelnemers ouer as 18.

Op die vraag wat eerste op haar lysie vir die dorp is, het die passievolle diereliefhebber gesê dat sy haar eie gemeenskapsprojek beplan om verskeie dierewelsynsinstansies te ondersteun – benewens die ander projekte waarby sy reeds betrokke is. Sy noem die projek die Winter Animal Drive en dit skop amptelik op Dinsdag, 19 Junie af.
Clarisse doen ‘n beroep op die gemeenskap om finansiële bydraes te maak of produkte te skenk wat dan op twee verskillende plekke (Engen Garage by Key West in Krugersdorp en Villagestraat 141, Randfontein) afgelaai kan word. Belangstellendes kan haar ook kontak by 079 499 4439 sodat sy bydraes kan gaan afhaal. Die organisasies wat sy wil help is Friends of Rescued Animals (Fora) in Roodepoort, 9th Day in Krugersdorp en die Randfontein/ Westonaria DBV.
Enigiemand is welkom om deel te wees van die projek, maar sy daag veral kleuterskole uit.
“Dit is lekker om die kleintjies ‘n bietjie te betrek. Ek dink regtig hulle kan aanklank by die projek vind omdat dit oor diere gaan – ons almal weet hoe kinders oor diere voel,” het sy gesê.
“Baie van die ander titelhouers help minderbevoorregte mense, maar ek het gevoel diere word afgeskeep. Ons moet ‘n verskil in Randfontein maak en op die een of ander manier help.”
Clarisse laat tans pamflette met die projekbesonderhede daarop druk wat op straat in die dorp uitgedeel sal word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



