Duur skaapvleis is g’n wolhaarstorie
Daar is alles – van vet skape tot 'n bul van amper 'n ton – tydens 'n onlangse veiling by Lund Afslaers opgeveil.
‘n Boer loop nie sommer ‘n veiling mis nie. Dis die ideale geleentheid om nuwe bloed in die boerdery in te bring of om ‘n paar rand vir ‘n gesonde stoetbul of ‘n -skaap te kry.
Die veiling by Lund Afslaers op 30 Augustus was baie suksesvol en boere het in hul massas opgedaag om beeste, varke, skape en bokke te koop en te verkoop.

Skaapvleis is van die duurste en mees gesogte vleis op die mark en daarom het die Herald gaan uitvind wat dié vleis so spesiaal maak.
Volgens Adrian Appelcryn, een van die werwers by Lund Afslaers is skaapboerdery aan die Wes-Rand baie kompeterend.
“Skaapvleis is die mees gesogte vleis, maar dis baie duur. Daar is ‘n groot verskil tussen die skaapvleis wat ons hier koop en dié van die Wes-Kaap af. Hoewel die vleis van die Wes-Randse skape heerlik is, is daar ‘n spesifieke bossie wat net in die Karoo voorkom wat die vleis van hul skape so lekker laat smaak.”
‘n Lekker vet C-graad skaap van so 60kg kan verkoop word vir tussen R2 200 en R2 400. Skaaplammers is egter baie duurder as mens dit in rand per kilogram uitwerk, maar lammers weeg nie baie nie. ‘n Groot lam van 50kg verkoop vir tussen R2 000 en R2 200.

Vee moet egter gesond en in top kondisie wees wanneer hulle te koop aangebied word.
“As jy by ‘n slaghuis gaan skaapvleis koop, het jy ‘n keuse tussen lamsvleis en C-graad skaapvleis. Lamsvleis is die lekkerste vleis en dit is baie sag, want lammers is baie jonk. Hulle word op om en by ses maande geslag, en hulle slag dan so tussen 18kg en 25kg uit. C-graad skaapvleis, wat van ‘n volwasse skaap kom, is meer geskik vir kook. Dié vleis is ‘n bietjie taaier as lamsvleis,” het Adrian gesê.

Daar is 660 diere opgeveil tydens die laaste veiling in Augustus by Lund Afslaers. Die swaarste bees wat opgeveil is, het 960kg geweeg en die swaarste vark was ‘n verstommende 310kg.
Volgens Rudie Lund, eienaar van Lund Afslaers, is skraal koeie teen slegs R25 per kilogram opgeveil. Daarenteen het kalfies R57 per kilogram gehaal.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes
Roodepoort Record
Krugersdorp News
Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!



