Local newsNews

Hulp vir familie wat gru-ongeluk oorleef

Jacaranda FM se Good Morning Angels saam met Roman’s Pizza het elk R35 000 geborg om die jong familie te help.

Marius du Toit, sy verloofde Monica Deysel, 20, en hul negemaande oue seun, Kyle du Toit was op pad na familie op Maandagmiddag, 2 November toe hulle in ‘n botsing reg van voor tussen Kocksoord en Finsbury betrokke was.

Al drie het ernstige beserings opgedoen, en Marius het aanvanklik gedink dat hulle hul seun verloor het. Die jong gesin het nie ‘n mediese fonds nie, maar familielede het gehelp om die baba, Kyle in ‘n private hospitaal te laat opneem. Hy het drie skedelfrakture gehad, maar hy het dit gelukkig oorleef.

Marius en Monica is na ‘n staatshospitaal geneem en is albei sedertdien ontslaan.

Monica kon aanvanklik nie loop of praat nie, en sy is tans in ‘n rehabilitasiesentrum waar sy stadig weer leer loop het. Sy kan steeds nie praat nie en kan net drie geluide maak.

Marius het ‘n gebreekte knie, gebreekte bene en ‘n gebreekte skedel opgedoen en het voortdurend pyn. Hy bly tans by sy ma. Hy het nog skanderings en behandeling nodig, en sal vir die volgende jaar nie kan werk nie.

Klein Kyle is ook uit die hospitaal ontslaan en bly by Monica se ma. Die gesin was nog nie saam sedert die ongeluk nie en daar lê nog baie maande se genesing voor.

Nie Marius of Monica sal vir die komende maande kan werk of geld verdien nie, en dit is nie duidelik wanneer hulle weer onder dieselfde dak as ‘n gesin sal kan saamwoon nie.

Marius hul se kar na die ongeluk. Foto ingestuur

Hul familie en vriende het hulle met baie van die kostes bygestaan, maar die finansiële las blyk vir die gesin net so groot te wees, benewens die fisieke en emosionele trauma wat hulle gely het. Daarom het baie vriende sowel as Marius se ma, Gerda van Wyk, aan Jacaranda FM se Good Morning Angels geskryf.

Roman’s Pizza sal R35 000 aan die Du Toit-familie skenk om te help met sommige van die mediese onkostes na hulle ongeluk, en die Good Morning Angels Fonds sal daardie bedrag ewenaar met nog R35 000 vir mediese en ander onkostes vir Marius, Monica en Kyle.

Gerda het vertel dat hulle ontsettend dankbaar is vir die donasies wat hulle ontvang het.

Ons het soveel uitstaande rekeninge vir Marius en Kyle wat nog steeds instroom, en die finansiële verligting beteken vir ons geweldig baie,” het Gerda vertel.

Volgens haar is daar nog ‘n baie lang pad voor, maar met God aan hulle sy kom hulle deur elke dag. “God maak vir ons geslote deure oop wat vir ons somtyds onmoontlik lyk.”

Gerda wil in besonder haar dank oordra aan Roman’s en Good Morning Angels, asook aan elkeen wat tot dusver ‘n bydrae gemaak het, en diegene wat vir hul kinders bid.

“God is groot en Sy genade dra ons deur elke dag.”

Sy het vertel dat klein Kyle onder omstandighede goed vaar en met die fondse wat hulle nou ontvang het, gaan hulle vir hom ‘n afspraak by ‘n neuroloog maak omdat die regterkant van sy gesig nie funksioneer nie.

Volgens Gerda vaar Marius ondanks die pyn wat hy ervaar ook baie goed en hy kry een keer ‘n week fisio vir sy hand, been en knie. Almal is baie beïndruk met sy vordering. “Hy moet in Mei 2021 terug teater toe sodat die drade wat sy knie aanmekaar hou, verwyder kan word. Hy moet ook ‘n neuroloog gaan sien want hy ervaar baie pyn waar die stuk van sy skedel uitgebreek het.”

Monica is tans in ‘n rehablitasiesentrum en sy kan nou al loop sonder haar loopraam. “Sy het gevoel in haar regterskouer tot by haar elmboog en dan weer in haar hand, maar sy kan nog steeds nie haar arm gebruik nie.”

Gerda het ook vertel dat Monica ‘n baie ernstige breinbesering in die ongeluk opgedoen het en as gevolg daarvan kan sy nog nie praat nie. Sy is tans op suurstof as gevolg van ‘n longinfeksie.

Ons glo en vertrou dat God ons kinders volkome sal genees,” het Gerda gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.

Related Articles

Back to top button