Man begin slaaiblaar-tuin in alle erns weens inperking
Aangesien mense moet eet, het hy toe in alle erns begin om voltyds blaarslaai te kweek.
Die inperking het talle mense op verskeie maniere beïnvloed. Om jou werk te verloor of selfs minder te verdien weens die inperking is seker een van die algemeenste maniere waarop mense deur die pandemie geraak is.
Die 56-jarige Hentie Bezuidenhout van Wilbotsdal het verduidelik dat alhoewel hy al vir die afgelope drie jaar aan sy groentetuin werk, dit aanvanklik net iets ekstra was om te doen. Volgens Hentie het hy motors herstel, maar daar was nie werk vir hom gedurende die inperking nie. Aangesien mense moet eet, het hy toe in alle erns begin om voltyds blaarslaai te kweek.
Hy het vertel dat blaarslaai van die maklikste groentes is om te kweek omdat dit reg deur die jaar geplant kan word en gou gereed is om te oes.
“Dit is binne omtrent 35 tot 40 dae reg om gepluk te word,” het hy gesê.

Dit is wat jy volgens Hentie nodig het om blaarslaai te begin kweek:
• Kompos
• Saailingbakkies of selfs eierhouers
• Goeie saad (hy beveel Starke Ayres aan)
• Graaf
• Tuinvurk
• Kruiwa
• Tuinslang met ‘n fyn sproeikop
• Gifstowwe
• Plantvoedsel
• Geduld en tyd
Stap 1:
Vul die saailingbakkies met kompos en druk die saadjie ongeveer 5mm diep in die kompos in. Dit is belangrik om hulle elke dag water te gee en hulle moet in vol son staan. Wanneer die plantjies die derde stel blaartjies maak, is dit gereed om uitgeplant te word.

Stap 2:
Werk kompos in die bedding in en plant dan die plantjies daarin oor. Dit is na ongeveer 35 tot 40 dae gereed om gepluk te word.
Stap 3:
Gee die plante steeds elke dag water en voed dit met die nodige plantvoedsel wat by enige kwekery beskikbaar is.

Stap 4:
Onthou om die soort plaagdoder te spuit wat saam met die plante werk,, want volgens Hentie is voorsorg beter as nasorg.



