Local newsNews

Pasgebore baba het R’fontein se hulp nodig

Die I Dare You Foundation probeer die familie help wat nie 'n mediese fonds het nie.

Die I Dare You Foundation probeer ‘n familie en hul pasgebore baba help.

Juvandrè Coetzee is op 2 Januarie 2021 gebore en kan tans nie self asemhaal nie weens aangebore defekte in sy boonste lugweë.

Volgens Sheree Jonker, Juvandrè se ma, moes sy ‘n noodkeiser ondergaan omdat haar baba in nood verkeer het.

Hy is direk na geboorte op ‘n ventilator in die Neonatale intensiewesorgeenheid geplaas omdat hy nie self kon asemhaal nie.”

Na vele toetse en verskeie moontlike diagnoses het ‘n CT-skandering onder andere getoon dat daar ‘n afwyking in die septum is, en dat sy septale kraakbeen sy regterneusholte blokkeer. Die turbinaatbene aan die linker- en regterkant is vergroot.

Daar gaan eers ander metodes gevolg word om te probeer om Juvandrè self te laat asemhaal voordat ‘n operasie oorweeg sal word, maar hy sal daarna ook weer in die Neonatale intensiewesorgeenheid gemonitor word. Sodra die dokters tevrede is met sy vordering sal hy na die gewone neonatale saal oorgeplaas en verder gemonitor word voordat hy kan huis toe gaan.

Sheree-hulle het nie ‘n mediese fonds nie en sy en haar verloofde, Christopher Coetzee, ry elke dag hospitaal toe om hul baba te besoek. Christopher moet ook werk toe ry, en die brandstofuitgawes kry hulle onder.

Baba Juvandrè is al vir die afgelope drie weke in die hospitaal. Foto ingestuur.

Die I Dare You Foundation het ingespring en help die familie deur baba Juvandrè se storie te vertel en enige vorm van hulp of donasies te kry om al die mediese kostes te probeer dek.

Sheree het vertel hoe ‘n hartseerervaring dit is om elke dag hospitaal toe te gaan en dan nie jou kind te mag huis toe neem nie.

Ons emosies ry van die begin af wipplank en ons het nie geweet wat om te doen nie. Daar is soveel moontlike diagnoses vir ons gegee, en ons het ook nie onmiddellik al die antwoorde gehad nie,” het sy vertel.

Hulle vind egter berusting in die feit dat twee uitstekende dokters en ‘n oor-, neus- en keelspesialis hom behandel, met ‘n span bekwame verpleegsters.

“Met die genade en mag van ons Here weet ons dat Juvandré in goeie hande is. Hy sal wel huis toe kom, maar ons besef dat ons op ons hoede moet wees en hom vir die eerste paar jaar baie fyn moet dophou as hy nie die operasie om sy lugweë te herstel, dadelik gaan kry nie, maar ons weet hy is sterk, hy wys dit vir ons keer op keer.”

Juvandré het baie vinnig ‘n baie beroemde seuntjie geword. “Daar is honderde, as dit nie duisende is nie, mense wat vir hom bid en dit maak ons harte ontsaglik bly. Ons is so dankbaar vir al die bystand.”

Baba Juvandrè is al vir die afgelope drie weke in die hospitaal. Foto ingestuur.

Volgens haar kan die dokters nie tans vir hulle sê wanneer hulle hom kan huis toe neem nie omdat sy toestand gemonitor moet word om te bepaal of ‘n operasie nodig sal wees.

Baba Juvandré se onmiddellike behoeftes is baba-neusdruppels, ‘n bevogtiger en ‘n stuifsproeier, ongeag wanneer hy vir die eerste keer sal kan huis toe gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button