Die personeel van Hoërskool Riebeeckrand was baie opgewonde om die Covid-19 entstof te ontvang.
Elzeri Wright, skoolwoordvoerder het verduidelik dat die personeel ingedeel was om van Woensdag, 23 tot Vrydag, 25 Junie asook op 28 Junie by die Greenhills Sportstadion ingeënt te word.
“Al was die ry lank was dit die moeite werd. Sommige personeellede was wel skrikkerig, maar ander was bly die lang gewag vir ‘n inenting is verby,” het Elzeri gesê.
Volgens Letsie Grobler was haar ervaring pynloos en aangenaam.
Die suster wat my ingeënt het, was baie behulpsaam; sy het die proses baie mooi aan my verduidelik asook watter newe-effekte ek na die tyd kan ervaar, en watter medikasie ek daarvoor kan gebruik,” het Letsie gesê.
Tianie Barnard het vertel dat die senuwees geknaag het, maar na die tyd was sy dankbaar dat sy die inenting ontvang het omdat dit vir haar belangrik is om die leerders en haar kollegas te beskerm.
“Die virus eis mense se lewens en ons moet saamstaan om mekaar veilig en gesond te hou,” het Tianie vertel.

Livia du Plooy het maande gelede al besluit dat sy die inenting wil neem en is bly dat sy die geleentheid gekry het.
“Meeste van ons personeellede het ligte newe-effekte soos naarheid, koors, hoofpyn en lyfseer ervaar, maar na ‘n dag was hulle weer hulle ou self,” het Elzeri gesê.
Annelize van den Berg, hoof van Hoërskool Riebeeckrand is saam met haar personeel dankbaar dat hulle die skoolomgewing kon beveilig deur die inenting te ontvang.
Sanitering, sosiale afstand en die dra van maskers bly steeds die goue reëls, en Riebeeckrand het en sal dit steeds getrou nakom,” het Elzeri vertel.




