Die Graad 7-leerders van Laerskool Randfontein het hul afskeid in die buitelug op die sportveld op Dinsdag, 30 November gehou.
Skoolwoordvoerder Annie Nolan het vertel dat na die moeilike jaar waarin die leerders baie dinge ontneem is, hulle reg was vir hul afskeid.
“Ons het besluit om wel vir die Graad 7-leerders ‘n afskeid te gee ten spyte van Covid-19. Al die inperkingsreëls is in ag geneem en die skool het besluit om ‘n fliekaand op die rugbyveld te hou. Onderwyser Tanya Pelcher was in beheer en het mooi seker gemaak dat almal veilig is terwyl hulle hulself geniet,” het Annie gesê.

Sy het vertel dat al die Graad 7’s uitgenooi is om die aand by te woon en elke leerder het pizza, springmielies, spookasem, koeldrank en ‘n lekker ontvang. Kos van die huis af is ook toegelaat.
Die leerders het hulself gemaklik gemaak met komberse, kussings en sagte stoele. Die fliek waarna hulle gekyk het was Jungle Cruise en almal se lagspiere het goed gewerk tydens die fliek. Die reën het die planne so ‘n bietjie in die wiele gery en die fliek is na die saal verskuif. Na afloop van die fliek is daar lekker in die saal gedans.”

Sy het bygevoeg dat die leerders en onderwysers hul danspassies gewys het.
“Die Graad 7’s van 2021 is nou amptelik klaar met laerskool, en die onderwysers wens hul sterkte toe met hul hoërskoolloopbane en wag om van al hul fantastiese prestasies te hoor.”




