Erfenisdag-vreugde by Vriendskapstuiste: stap en worsbroodjies
In die gees van Erfenisdag het die inwoners van Vriendskapstuiste ’n prettige stap en saamkuier geniet.
Die inwoners van Vriendskapstuiste het Erfenisdag gevier met ‘n stap deur die tehuis en ‘n worsbroodjie oor die kole.
• Lees ook: Hennie Minnaar vier sy Afrikaanse erfenis
Voorsitter Dalena Botha het verduidelik die stap is ‘n jaarlikse gebeurtenis om Erfenisdag, oftewel Braaidag, te vier. Inwoners kon kies of hulle 1 km of 2 km wou stap, en dié wat baie fiks is, kon selfs vir ‘n tweede of derde rondte stap. Na die stap het almal by die mini-gholfbaan bymekaar gekom om ‘n worsbroodjie te geniet en saam te kuier.


Hierdie jaar is die derde jaar wat hulle die stap aanpak, en Dalena het genoem dat, naas die Lentefees, dit die hoogtepunt van die jaar is. Jonk en oud neem deel en het die geleentheid terdeë geniet terwyl hulle die mooi omgewing waarneem.



Altesaam het 140 mense die stap aangepak, en 120 het agterna bymekaar gekom om worsbroodjies te geniet. Daar was pyltjies op die pad gespuit om die rigting aan te dui. Elke persoon kon stap volgens hul eie tempo en so ver as wat hulle wou. Dalena het genoem dis ‘n goeie geleentheid vir die inwoners om uit te kom en die buitelug te geniet.
Gemeenskapslid Henry Jacquire het op dieselfde dag 83 geword en, net soos verlede jaar, besluit om dit by die tehuis te vier.
Werknemers by die tehuis het ook in hul tradisionele drag gekom en selfs die inwoners vermaak met tradisionele danse.




