NewsSchoolsUpdate

Van Riebeeckrand na die VSA: Zelmari se reis

Van Randfontein na Washington DC: Zelmari Oosthuizen (15) beleef ’n onvergeetlike akademiese avontuur in die VSA.

Hoërskool Riebeeckrand-leerder Zelmari Oosthuizen (15) het onlangs ’n droomervaring in die VSA voltooi, waar sy top-universiteite besoek en deel van die eksklusiewe Academic Achievers-groep geword het. Nou is sy op pad terug huis toe, vol inspirasie en nuwe perspektiewe.

• Lees die oorspronklike artikel hier: Riebeeckrand-leerder begin akademiese avontuur na die VSA

Zelmari is met ’n spesiale uitnodiging vereer om deel te wees van die Academic Achievers-groep nadat sy uitstekende akademiese uitslae behaal en in die top 10 van haar graad geëindig het.

Haar voorbereiding vir die toer het reeds verlede jaar begin. Op 2 Oktober het sy na die VSA gevlieg om verskeie universiteite te besoek, waaronder die Massachusetts Institute of Technology (MIT), Harvard University en Yale University.

‘n Uitsig oor New York City. Foto ingestuur.

Haar ma, Cherische, het gesê sy is dankbaar dat Zelmari se reis suksesvol verloop het en dat sy alles kon beleef wat die ervaring gebied het.

“Maar ek is totaal en al gereed om haar by die huis te hê,” het sy gesê.

Zelmari eet by ‘n bekende kitskosrestaurant. Foto ingestuur.

Sy het bygevoeg dat sy en Zelmari gereeld in kontak was, ondanks die ses-uur tydverskil. Volgens haar het Zelmari elke dag as “die beste dag” beskryf, hoewel die kankervoorlesing uiteindelik haar gunsteling-ervaring was.

“Hierdie ervaring het haar beslis intellektueel aangeraak. In haar eie woorde het sy gesê haar wieletjies het begin draai. Ek glo dit het bygedra tot haar volwassenheid,” het Cherische gesê.

‘n Ikoniese gebou in die hoofstad, Washington, DC. Foto ingestuur.

Wanneer Zelmari tuis is, beplan sy eers om ’n welverdiende blaaskans te neem voordat sy voorberei vir die komende eindeksamen. Daarna sal die gesin haar prestasies behoorlik vier.

Die Oosthuizen-familie is trots op Zelmari en glo sy gaan nog baie meer hoogtepunte bereik.

Ek het geweet sy sou hierdie pad met volle moed aanpak. Ek het nie geweet hoe dit sou verloop nie, maar met dankbaarheid kyk ek terug – en met opgewondenheid vorentoe om te sien wat sy nog alles gaan vermag,” het Cherische afgesluit.

‘n Foto wat Zelmari geneem het toe sy uit die vliegtuig se venster kyk. Foto ingestuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button