Riebeeckrand-leerder begin akademiese avontuur na die VSA
Na haar top-10 prestasie neem Zelmari Oosthuizen haar kennis internasionaal.
Hoërskool Riebeeckrand-leerder Zelmari Oosthuizen (15) is gereed om haar akademiese avontuur in die VSA aan te pak en sien uit daarna om haar kennis verder te ontwikkel.
Ná haar top-10 akademiese prestasie is sy met ’n spesiale uitnodiging vereer om deel van die Academic Achievers-groep te wees.
Haar voorbereiding vir die toer het reeds verlede jaar begin met paspoorte en administrasie, en haar tasse is klaar gepak.
• Lees ook: Riebeeckrand akademiese ster se drome strek oor grense
Volgens haar ma, Cherische, het Zelmari gister (2 Oktober) eers na Parys, Frankryk gevlieg. Hoewel dit net ’n oorslaanstasie op pad na die VSA is, hoop sy om die Eiffeltoring van die lughawe af te bewonder. Zelmari behoort vandag (3 Oktober) omstreeks 21:00 in Boston aan te kom.
“Ons was al gisteroggend 04:00 aan mekaar se heup verbind. Ek is vreeslik opgewonde en dankbaar. Zelmari is ook opgewonde, maar terselfdertyd voel sy senuweeagtig,” het Cherische gesê.
Om haar aan die huis te herinner, neem Zelmari die familiebybel saam.
“Ons is so geseënd met mense in ons lewe wat uitgereik het om te help. Carmen en Koos Boyder was veral ’n groot steunpilaar gedurende hierdie tyd. Ons hoop Zelmari bly veilig en neem elke oomblik ten volle in,” het Cherische afgesluit.



