Help peuter (2) om weer te sien
Die familie hoop dat Simoné ná haar operasie ’n normale lewe sal kan lei soos enige tweejarige, maar hulle benodig nog skenkings vir die operasie.
’n Tweejarige wat met bilaterale aangebore katarakte gebore is, hoop dat chirurgie haar kan help om weer te sien.
Simoné Sinden (2) het slegs 2% sig in een oog en totale blindheid in die ander. Haar familie hoop nou dat ’n operasie ’n verskil kan maak, maar hulle benodig skenkings om daarvoor te betaal.
Audrey Sinden, Simoné se ma het verduidelik sy het eers op sewe maande uitgevind sy is swanger en het net twee maande gehad om vir Simoné se koms voor te berei. Haar geboorte was ook ‘n moeilike bevalling. Audrey het verduidelik dat Simoné se toestand by die dag erger word.
Simoné het op 26 November ’n operasie ondergaan waar die katarakte verwyder en haar ooglense vervang is. Die gesin het egter nie ’n mediese fonds nie en alles moet uit hul eie sak betaal word.
“Sy is ‘n energieke tweejarige en as jy haar sien, sal jy nie glo sy is blind nie. Niks hou haar terug nie. Sy is baie ingestel op gehoor en dis hoe sy haar pad vind. Sy val baie oor dinge en loop ook teen mure en deure vas, maar sy is ‘n sterk dogtertjie en staan altyd op. Simoné is vreeslik liefdevol en vriendelik, sy is lief vir balle en natuurlik haar poppe wat haar babas is. Sy is mal oor diere en wil hulle net vashou. Sy soek net maatjies,” het Audrey vertel.
Sy het egter genoem dat Simoné se blindheid haar dag-tot-dag take beïnvloed. Sy kan nie inkleur en teken soos ander kinders nie maar sy is baie lief vir musiek.
Hulle hoop is dat Simoné ná die operasie ’n normale lewe sal kan lei.
“Die operasie sal Simoné die geleentheid gee om te sien, hoewel dit ‘n lang pad na herstel sal wees. Sy sal egter ‘n bril moet dra wat jaarliks vervang moet word, asook na gereelde opvolg doktersbesoeke moet gaan. Haar toestand kan ook moontlik later in haar lewe tot ander oogtoestande lei en moet permanent gemonitor word.”
Die familie het vir haar ‘n BackaBuddy-blad gestig in die hoop om geld in te samel vir die operasie. Enige persoon wat wil bydrae kan die skakel by https://www.backabuddy.co.za/campaign/simon-sinden volg of vir Audrey by 062 588 0814 kontak.



