Ma en dogter is bak- en broumeesters
Ma-dogter meesterbakkers gee raad aan ander wat 'n passie vir reseptekuns het.

Ma en dogter, asook mede-eienaars van Out of the Box Bakery, Anecke de Lange (48) en Megan Steyn (20) het meer vertel oor wat dit behels om ‘n meesterbakker te wees.
Anecke sê hulle het hul eie besigheid begin toe hulle werkloos was. Die besigheid bestaan uit ‘n ma en dogter wat hul passie omskep in werk vir ‘n inkomste.
“Ons het grootgeword met oumas wat baie lekkernye bak. Ek en Megan het toe ook saam begin bak en ‘n passie daarvoor ontwikkel. Ons het nog altyd ‘n goeie ma-dogter-verhouding gehad en bou net daarop,” het Anecke uitgespreek.

Die twee bakkers geniet dit om nuwe uitdagings te toets en glo dat daar nie foute is nie, maar eerder ‘gelukkige ongelukke’. Die belangrikste reël is om weer te probeer en die proses te geniet.
“Dit is vir ons ‘n voorreg om te bak wanneer mense positiewe terugvoer gee oor ons werk. Dit help om kreatief te wees en geduld te oefen,” het sy afgesluit.