Magriet ‘n kunstenaar van formaat
Enigiets dien as 'n inspirasie vir kunstenaar Magriet Botha en eienaar van Cum Laude Kunsskool.

Kunstenaar Magriet Botha het haar passie vir kuns gedeel en vertel hoe haar liefde vir hierdie kreatiewe aktiwiteit bestaan het.
Magriet woon al vir die laaste 35 jaar in Randfontein. Sy besit ook haar eie kunsskool, Cum Laude Kunsskool. Die kunsskool sowel as haar ateljee waar sy haar passie uitleef is geleë in Klein Elandsvlei. Nie net beoefen sy kuns in haar vrye tyd nie, maar is sy ook ‘n entoesiastiese kunsonderwyser by Hoërskool Jan Viljoen High School.
Haar passie het begin op ‘n jong ouderdom en sy onthou toe sy ‘n Sanlam-prys vir kinderkuns in graad een gewen het.
“So lank as wat ek kan onthou was ek maar altyd besig om te skilder en te teken. My ouers het my van ‘n jong ouderdom af ondersteun en my aangemoedig om my passie vir kuns uit te leef,” het sy uitgedruk.

Nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy by die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer waar sy haar BA-graad en Meestersgraad in Beeldende Kunste met onderskeidings verwerf het. Dit was in 2013 wat Magriet haar kunsskool in Randfontein geopen het en sedertdien talle individue die wonders van kuns geleer.
Sy eksperimenteer graag met verskeie mediums en style, maar geniet Ekspressionisme die meeste. Ekspressionisme is ‘n styl wat gewoonlik vereenvoudigde vorms en verwronge figure uitbeeld.
“Ek beperk myself nie met spesifieke mediums en style nie, want daar is baie wat ‘n mens nog kan leer en verbeter. Maar ek moet bieg, ek het ‘n groot fassinasie vir die dramatiese kombinasie van houtskool en terpentyn. Olieverfskilder is ook vreeslik prettig,” het sy gesê.

Een van haar kunswerke is deel van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein se permanente versameling wat spesiaal gemaak was vir hulle Eeufeesvieringe. Hierdie skildery se medium bestaan uit olieverf en byewas.

“Ek het al heelwat ander kunswerke ook gemaak oor die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog en die uitwerking daarvan op die Afrikaner. Ander temas wat ek graag aangehaal het terwyl ek ‘n student was, was die idee van verganklikheid of ‘Vanitas’. Ek gebruik ook my dogtertjie, Neelsie, graag in my kunswerke.
“Die wêreld is vol pragtige dinge, dat ‘n mens nooit vêr hoef te gaan soek vir inspirasie nie,” het sy opgemerk.

Haar grootste skildery is ‘n massiewe 2.3m x 1.7m en hang huidiglik in haar huis.
Verder het Magriet raad aan opkomende kunstenaars gegee.
“Moet nooit dink dat jy nou al alles weet nie. Leer soveel kunsgeskiedenis as wat jy kan. Stel belang aan wat om jou aangaan en skep ‘n opinie oor belangrike kontemporêre sake. Werk elke dag hard en doen alles met oorgawe, want dit is ‘n voorreg om kuns as jou talent te hê,” het sy afgesluit.Enigiets dien as ‘n inspirasie vir kunstenaar Magriet Botha en eienaar van Cum Laude Kunsskool.