Die lewe deur ‘n kameralens
Fotograaf Richard Schulz praat oor die lewe deur die lens van 'n kamera.
Die Randfontein Herald het onlangs ‘n eksklusiewe onderhoud met fotograaf Richard Schulz van Randgate gevoer.
“Van kleins af het kamera’s my beïndruk. Dit was eers my ma se filmkamera en daarna my eerste digitale kamera. Foto’s het ‘n gevoel van tasbare nostalgie. As jy na ‘n foto kyk is dit maklik om jou eie storie rondom die prent op te maak,” het Richard vertel.
Sy fotografieloopbaan het werklik in 2018 begin en sedertdien het hy al meer as 50 000 foto’s gelewer. Hy geniet om verskeie daaglikse temas in sy werk vas te vang, maar hy hou heelwat van dokumentêre fotografie.
“Een van my hooftemas behels mense. Dit is baie interessant om mense se daaglikse lewe in ‘n foto vas te vang,” het hy verduidelik.

Fotografie is ‘n genotvolle stokperdjie wat hom dwing om buite sy gemaksone te werk.
“Dit is nie maklik om ‘n vreemdeling te vra of jy foto’s van hulle mag neem of om ‘n model af te neem langs ‘n besige straat nie. Ek het deur dit geleer dat dit beter is om die kans te vat en te sien hoe dit uitspeel eerder as om te wonder hoe dit sou wees.
“Elke fotosessie bring iets nuuts wat as inspirasie dien. Dit is skaars om twee dae presies dieselfde goed af te neem. Indien iemand kritiek lewer oor my foto’s sal ek hulle kommentaar gebruik as motivering sodat ek dit kan toepas in my volgende sessie,” het hy gesê.

Met elke foto wat Richard vasvang, probeer hy om ‘n boodskap lewer.
“Ek wil graag hê mense moet hul omgewing bekyk en dinge sien wat hulle voorheen sou mis. Dit is maklik om ‘n situasie te analiseer en afleidings te maak. Fotografie bied jou die geleentheid om dinge in die oomblik te sien gebeur. Soms gesels ek met die mense wat ek afgeneem het en vind dinge uit wat ek nooit besef gebeur het nie. My foto’s is wit en swart, maar die lewe is nie.”
Hy het verder raad gegee aan diegene wat belangstel om fotografie as stokperdjie aan te neem.
“Die beste kamera is die een wat jy by jou het. Dit is ‘n gesegde wat ek gelees het een dag. As jy wil begin foto’s neem, doen dit. Jy kort nie ‘n digital single-lens reflex-kamera (DSLR) met ’n duur lens nie. Soos jy meer leer en aangaan met fotografie sal jy kan besluit watse kamera vir jou die beste is.”



