Local news

Die kuns agter Menseregtedag

Plaaslike kunstenaar, Charlene Burger, deel haar gevoel oor die konsep van menseregte binne die raamwerk van kuns.

Die Randfontein Herald het uitgereik na ‘n kunstenaar, Charlene Burger, om haar kunskonsepte rondom Menseregtedag met die gemeenskap te deel.

Vir Charlene is menseregte nie net ‘n sosiale konsep nie maar iets wat diep in God se oorspronlike ontwerp vir die mens lê.

“Met my werk beeld ek die storie van die skepping as mens uit. Ek daag mense ook uit om te dink oor waar geregtigheid werklik begin – in die mens of in God? ‘Wat is my reg as mens?’ is my vraag altyd,” het sy vertel.

Sy het verder verduidelik kuns is ‘n medium wat die hart raak sonder om ‘n direkte argument te veroorsaak.

“Voor skrif en geskrewe taal was kuns een van die eerste maniere waarop mense hul gedagtes en ervarings gedeel het. Dit kan ‘n brug bou tussen verskillende sieninge en mense help om te ervaar hoe ongeregtigheid lyk en voel. Dit skep ruimte vir refleksie eerder as net reaksie,” het sy bygevoeg.

Kuns praat ‘n taal wat die siel verstaan, ongeag van kultuur of taal.

“Regte en geregtigheid mag dalk verskillend lyk in verskillende samelewings, maar die diep behoefte aan waarheid, liefde en vryheid is vasgevang in elke mens.”

Een van Charlene se kunsprojekte het gehandel oor stilte teenoor waarheid. Sy glo nie in aggresiewe konfrontasie nie maar eerder ‘n diep en sagte ontwaking.

Charlene Burger staan met een van haar kunswerke.

“Mense verander nie wanneer hulle in ‘n hoek gedruk word nie – hulle verander wanneer ‘n nuwe perspektief hul harte raak en hulle self begin vrae vra. Dit is ‘n manier om te sê, ‘Ek was hier. Ek het gevoel. Ek het gedink’. Ek glo dat menseregte nie bloot ‘n wetskwessie is nie maar ‘n hartskwessie. In baie lande en gelowe word mense as besittings of slawe beskou. As mense net ‘n slagspreuk hoor, sal dit min verander. Maar as hulle ‘n nuwe begrip van geregtigheid en self waarde binne hulself ontdek kan dit ‘n ware verskil maak,” het sy gesê.

Sy het verder uitgebrei oor die rol van kuns in menseregte-aktivisme. Volgens haar is kuns nog altyd ‘n spieël vir die samelewing. Dit het ontwikkel van passiewe refleksie tot ‘n aktiewe instrument van verandering.

Sy het graag ‘n boodskap gedeel vir Menseregtedag.

Regte is nie net iets wat aan sekere mense behoort nie. As jy asem haal is jy ‘n lewende wese en het jy die reg om met respek behandel te word.

“Of jy op die straat verpletter en stukkend in jou siel en gees is en of jy in ‘n land se leierstoel sit. Ware geregtigheid begin nie by mense se wette nie, maar by ‘n dieper waarheid. Ons is gebore om lief te hê en lief gehê te word want God is liefde en Sy liefde is in ons samestelling,” het Charlene afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button