Pastoor vertel oor die ware betekenis van Paasfees
Pastoor Christo de Beer het gesels oor Paasfees en wat dit vir hom beteken as pastoor van die Volle Evangelie Kerk.
Vir pastoor Christo de Beer is Paasfees ‘n herinnering van die geskenk wat God gegee het vir die mens.
• Lees ook: Kinderhof vier paasfees
Hy het met die Randfontein Herald gedeel hoe Paasfees die kernboodskap van Christenskap weerspieël.
“As gevolg van die sondeval was daar skeiding tussen God en die mens. Die mens kon homself nie uit sy eie met God versoen nie. ‘n Liefdevolle en genadevolle God het die dood en opstanding van Jesus Christus bewerkstellig om versoening tussen Hom en die mens te bring. Jesus het gesterf en die straf wat mens verdien het Hy gevat van ons sodat ons die ewige lewe kan hê,” het hy verduidelik.
Paasfees bied vir ons die kragtige herinnering van God se liefde.”
Christo se gunsteling tradisie tydens Paasfees is om met opgewondenheid op te staan vir Goeie Vrydag.
“Dit is wonderlik om te herdenk wat op Golgotha gebeur het en te besef die pyn, verwerping en lyding van Jesus op die kruis,” het hy uitgedruk.
Die Volle Evangelie Kerk vier Paasfees op ‘n spesifieke manier met die doel om gemeentes van hul denominasie te betrek en ‘n gesamentlike diens te hou. Op Donderdagaand sal hul begin met ‘n lofprys- en aanbiddingsdiens gevolg met nagmaal op Goeie Vrydag. Op daardie Saterdag reël die kerk ‘n manneontbyt en alle mans is welkom om by te woon.
Sondagoggend het die kerk hul Opstandingsdiens te same met ‘n familie-ete.
Alhoewel die kruisiging van Jesus ‘n somber dag was, is daar ‘n feestelikheid gekoppel daaraan toe Jesus gesê het ‘dit is volbring’.
“Die voorhangsel van die tempel het geskeur en nou het ons vrye toegang tot God. Geen dier hoef meer geslag te word nie omdat Jesus die vleklose lam was vir ons sondes. Dit bring ‘n blydskap want ek weet ek is vry.”
Verder het Christo die wanopvattings van Paasfees benader deur te verklaar dat baie mense dink dit gaan oor die Paashaas of fisiese marteling.
“Die kruisdood was ‘n eenmalige gebeurtenis en dit was werklik. Jesus moet vir jou ‘n werklikheid wees vir wie jy kan dankie sê. Dit neem jou plek van verlorenheid en gee nuwe lewe wat geen Paashaas of eier ooit sal kan doen nie.”
Hy het ‘n positiewe boodskap gegee vir diegene wat uitdagings beleef gedurende Paasfees.
Ons elkeen gaan deur tye van moedeloosheid en verdwaaldheid. Die ware betekenis van Paasfees is die genade en liefde wat die Here gewys het vir mensdom.
“Nader tot God en Hy sal tot jou nader. Gaan na die Here met volle vertroue want hy kan die onmoontlike moontlik maak.
“Baie mense bly soos toeskouers staan op die kantlyn van ‘n wedstryd. Jy is slegs deel van ‘n wedstryd as jy op die veld betrokke is. So werk dit in geloof ook. Wees betrokke by die Here,” het Christo aangemoedig.



