Tekkies Sondagskool deel ‘n Paasboodskap
Tekkies Sondagskool het 'n prettige Paasfeesklas gehou waar kinders die boodskap agter die vieringe geleer het.

Tekkies Sondagskool het onlangs ’n prettige en betekenisvolle Paasfeesles vir die jeug aangebied.
Een van die Sondagskoolonderwysers, Juanita du Plessis, het vertel dat hulle die kinders op ’n interaktiewe manier oor Paasfees geleer het – onder andere oor Jesus se kruisiging en opstanding.
“Ons het die les op ’n praktiese manier oorgedra deur plastiek Paaseierdoppies te gebruik. Binne elke eier was daar ’n simboliese item, soos ’n klip om Jesus se graf voor te stel.
Soos ons die Paasverhaal vertel het, het elke kind ’n eierdoppie oopgemaak en die item uitgehaal, waarna ons die betekenis daarvan verduidelik het,” het sy verduidelik.
Die drie hooftemas wat behandel is, was: Jesus se intog in Jerusalem, sy kruisiging, en sy opstanding.
“Paasfees is een van die belangrikste – indien nie die belangrikste – vieringe in ’n Christen se lewe. Dis ’n unieke geleentheid om die evangelie weer aan ons kinders oor te dra. Dit gee ons die kans om te wys hoe gebroke ons wêreld is, en watter oorwinning Jesus se dood en opstanding vir ons bring. Ten spyte van die gewig van sonde en gebrokenheid, skenk Jesus vir dié wat in Hom glo die oorwinning én die ewige lewe.”
Sy het ook benadruk dat ouers ’n belangrike boodskap aan hul kinders het om gedurende die vakansie oor te dra.
Dis belangrik dat kinders verstaan: Jesus het in ons plek aan die kruis gesterf, en sy opstanding simboliseer oorwinning. Hierdie diep waarhede kan op ’n prettige en praktiese manier oorgedra word.
“Ons het plastiek eierdoppies gebruik, maar daar is baie oulike idees op Pinterest beskikbaar,” het sy bygevoeg.
Juanita het ook ’n praktiese wenk aan ouers gedeel om kinders te help om die Paasboodskap beter te verstaan:
“Kry vir jou kind ’n mandjie en laat hulle klippe optel – elke klip verteenwoordig ’n sonde. Maak die mandjie effens swaar. Bedek dit dan met ’n rooi lap om Jesus se bloed, wat ons sondes bedek, te simboliseer. Laat die mandjie oornag staan. Terwyl die kinders slaap, vervang die klippe met eenvoudige geskenkies. Die volgende oggend, wanneer hulle die rooi lap verwyder, ontdek hulle die verrassing. Vertel dan vir jou kind dat net soos hulle ’n geskenk ontvang het, Jesus vir ons die grootste geskenk gegee het deur sy bloed en opstanding – die ewige lewe!”