Warm hande, warm harte: VLU vroue bederf Randpoort Tuiste
As deel van hul omgee-projek vir bejaardes het die Vrouelandbou-unie se Fuschia-tak na Randpoort Tuiste uitgereik.
Die Vrouelandbou-unie (VLU) se Fuschia-tak het onlangs na die minderbevoorregte inwoners van Randpoort Tuiste uitgereik.
Takvoorsitter Maryna van der Merwe het vertel dat dié uitreikaksie deel is van hul omgee-projek vir bejaardes, wat hulle vanjaar loods. Bottels is met sopmengsel gevul en aan die inwoners oorhandig.
Sy het genoem dat die tuiste baie inwoners het wat van SASSA afhanklik is, en daarom het hulle besluit om die instansie by te staan.

Die tak is ook besig met ’n projek waarin hulle teddiebere brei wat by skole afgelaai word. Hulle brei ook mussies vir minderbevoorregtes en moue vir Alzheimer-pasiënte om hul arms gedurende die winter warm te hou. Maryna het genoem dat enige donasies van wol of materiaal vir dié projekte waardeer sal word.
Hulle samel ook skryfbehoeftes in – soos ou sakrekenaars en storieboeke – wat in Augustus by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie se kinderhuise uitgedeel gaan word.
Enigiemand wat wil bydra, kan Maryna by 083 980 5707 kontak.



