Local news

Transoranje Koor vir Dowes tree op by Sionspoort

Op 20 September bring die Transoranje Koor vir Dowes, bekend as Hands of Harmony, musiek tot lewe in gebaretaal by Sionspoort se spesiale projek Waar Stilte Sing.

Die Hervormde Gemeente Sionspoort bederf vanjaar weer die gemeenskap met ’n besondere projek waarin die Transoranje Koor vir Dowes ’n gebaretaal-optrede sal lewer.

Die geleentheid vind plaas op 20 September om 10:00 by die gemeente. Die program sluit in ’n orrelkonsert deur Theo van Wyk, ’n optrede van die Transoranje Koor vir Dowes, asook die Alberton Dameskoor onder leiding van Paul Potgieter. Die National Art Association van Suid-Afrika en die Dell Arte Kunstefeesvereniging is ook betrokke.

Die Transoranje Koor vir Dowes, beter bekend as Hands of Harmony, het hulle verlede jaar op 27 Oktober vir die eerste keer aan die Randfontein-gemeenskap voorgestel tydens die kerk se 500-jarige viering van kerkmusiek.

Volgens Sionspoort se orrelis, Rudi van Wyk, het koordirigente Carmen Bredenkamp en Megan Bester uitgesien daarna om buite hul streek op te tree. Hy vertel die kinders van die koor het die geleentheid ten volle geniet.

“Musiek is dus vir dié wat anders dink en doen as ons. Ek wou wys dat musiek ’n universele taal is en geen grense het nie,” het hy gesê.

Rudi het verder verduidelik dat die boodskap van die dowe koor een van bewusmaking is – dat gehoorgestremdes ook deel het aan musiek. Die slotsang, waar die gemeente saam met die orrel gesing het, was volgens hom ’n simbool van inklusiwiteit.

Oor die koor se metode het hy gesê:

“Al is die lede doof, leer hulle die musiek aan deur vibrasies en klanke wat aanduiding gee van die mates van musiek wat gebruik word. Dit is nie ’n maklike proses nie, maar met toegewyde koordirigente is dit moontlik. Die woorde word dan omskep in gebaretaal, wat aan die gehoor gewys word.”

Rudi het onlangs prof. Theo van Wyk van die Universiteit van Pretoria se musiekafdeling genader. Volgens hom bevorder Theo musiek nie net op ’n nasionale vlak nie, maar ook internasionaal. Hy staan sterk vir die bewaring van historiese instrumente en die ervaring daarvan om pyporrels regoor Suid-Afrika te bespeel.

Vanjaar komponeer Theo ’n nuwe orrelwerk waarin vibrasies gebruik word om liedere meer toeganklik vir gehoorgestremdes te maak. Rudi is ook gevra om as orrelis ’n stuk te skryf, wat later opgeneem is en deel van Hands of Harmony se handelsmerk sal word.

Volgens Rudi was dit die begin van Waar stilte sing.

“Musiek het eeue lank ’n impak op die mens en word as universeel beskou. Dit raak die hart en voed die siel.”

Die projek Waar stilte sing is al ’n geruime tyd in werking, maar sal op dié dag amptelik as musiekstuk uitgevoer word. Die Transoranje Koor vir Dowes sal dit ook vir die eerste keer in gebaretaal vertolk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button