’n Reis van geloof, vasbyt en selfontdekking deur Spanje
Ná ’n 853km stap deur Spanje deel dr Johan Naudé en Yolandi Viljoen hul belewenis van die Camino de Santiago – ’n reis van geloof, vasbyt en selfontdekking.
Ná ’n 35 dae lange tog op die Camino de Santiago is dr Johan Naudé en sy metgesel, Yolandi Viljoen, weer tuis en deel hulle hul unieke ervaring.
“Die stap het baie goed afgeloop. Ons het 853km voltooi en is ekstra dankbaar dat ons dit sonder enige blase kon klaarmaak. Jou liggaam word regtig getoets – die eerste week voel jy elke spier, daarna begin die tendonpyn inskop, en op ’n stadium voel dit asof selfs jou skelet sensasie kry,” sê Johan.
Hy vertel dat hulle in 35 verskillende beddens geslaap het – soms stapelbeddens wat hulle met tot ses ander mense moes deel.

“Ons was meestal vroeg uit die vere en het tot in die vroeë middag gestap. Die Camino is ongelooflik – jy deel ontbyt met ’n Duitser, stap die middag saam met ’n Amerikaner en slaap in dieselfde kamer as ’n Australianer. Ons het deur stede, dorpies, plase, woude en industriële areas gestap. Jy leer ook baie van die persoon saam met wie jy stap – hoe hulle moeg word, ongemak hanteer en klaarkom met net die heel basiese besittings,” sê hy.
Op 20 September, 35 dae nadat hulle in Spanje aangekom het, het hulle Santiago bereik.
“Dit was ’n groot gevoel van prestasie en voltooiing – amper ongelooflik om te besef dat jou eie voete jou verder as 800km kan dra,” vertel Johan.
Hulle grootste uitdaging was die weer. Volgens Johan het hulle teen die einde ’n hittegolf én al vier seisoene op een slag beleef – van versengende hitte tot ysige koue, wind en reën. Ten spyte daarvan moes hulle aanhou stap. Die taal was ook ’n uitdaging, aangesien min plaaslike inwoners Engels kon praat.

“Eenvoudige dinge soos om kos te bestel of die pad te vra, raak skielik ingewikkeld. Ons moes baie staatmaak op selfoon-toepassings of ander pelgrims wat Spaans kon praat vir hulp. Gereeld moes ons maar met handgebare en ’n glimlag klaarkom,” sê hy.
Hul doelwit was duidelik, en hulle het daarin geslaag om elke tree van die Camino Francés (Franse roete) te voltooi.
Wat vir hulle die meeste uitgestaan het, was die land se ryk erfenis. Johan vertel van talle beelde, kerke en geboue wat al vir eeue bestaan. Die katedrale het hom veral beïndruk met hul geskiedenis en grootsheid.

“’n Mens herontdek waardering vir gewone dinge – ’n bed, lekker Suid-Afrikaanse kos, jou eie taal, jou eie land en mense wat jy verstaan sonder om te verduidelik. Basiese gemak word weer ’n geskenk.”
Hy raai ander sterk aan om ook die stap aan te pak.
“Verwag verandering, onbekendheid, die onverwagte – en verwelkom dit. Dis hoe die lewe soms ook is: sonder beheer, maar steeds doenbaar, stap vir stap,” sê hy.

“Ons is dankbaar vir die ondersteuning van familie, vriende en kollegas by die praktyk wat dit moontlik gemaak het – van dié wat ons plek moes inneem terwyl ons weg was, tot dié wat met boodskappe, aanmoediging en belangstelling saam met ons gestap het, al was hulle op ’n ander kontinent. ’n Spesiale dankie aan almal wat No More Tears Animal Rescue ondersteun het. Miskien klim ons volgende keer Kilimanjaro!” sê Johan opgewonde.



