Jong skoonheid wys hoe groot ’n klein hartjie kan wees
Gedrewe deur haar liefde vir haar gemeenskap, bring Milan de Koker hierdie Kersfees glimlagte waar ook al sy gaan.
Milan de Koker (10), deelnemer aan Miss Pre Teen Randfontein 2025/ 26, het besluit om hierdie Kersseisoen ’n verskil in haar gemeenskap te maak.
Sy het ’n plaaslike vulstasie besoek om vir elke personeellid ’n koekie met ’n bemoedigende boodskap en ’n koue bottel water te gee. Daarna het sy, saam met haar vriendin Elané Welthagen, deelnemer aan Miss Pre Teen Krugersdorp 2025/ 26, ook Vrienskap Tuiste besoek, waar hulle koekies en hartlike boodskappe met die inwoners gedeel het.
“Dit was vir my ongelooflik om te sien hoe my besoek die inwoners raak. Die glimlagte en waardering het my laat besef dat ek ’n verskil kan maak in my tuisdorp,” het Milan gesê.
Sy het bygevoeg dat dit vir haar belangrik is om ander se dag op te helder, al is dit net met ’n drukkie. In die verlede het sy ook broodjies en water aan karwagte in die dorp uitgedeel, en sy beplan om voort te gaan om na mense in nood uit te reik.
“Ek wil baie dankie sê aan al my ondersteuners wat hierdie pad saam met my stap. Sonder julle sou dit nie moontlik wees nie. Wees braaf, nederig en altyd jouself, moenie ooit verander wie jy is nie. Onthou, jy is mooi van binne en buite,” het Milan afgesluit.



