Kersliedere bring die gemeenskap saam
Die gemeenskap vier die vreugde van Kersfees saam tydens Carols by Candlelight.
Die gemeenskap het vanjaar weereens in die gees van Kersfees saamgekom tydens die Carols by Candlelight-geleentheid.
Pastoor Martie Erasmus sê die aand het alle verwagtinge oortref. Die orkes, klank en voorsangers was uitstekend afgerig en het goed saam geharmoniseer onder haar leiding. Die klank is geborg deur die ATKV Comenzo-tak.

Tussen 250 en 300 mense het by Tambotie Mall bymekaargekom om die optrede te geniet. Bekende Kersliedere soos Die Heiland is Gebore, Stille Nag, Betlehemster, Kom Alle Getroues en Die Oorwinningslied is opgevoer.
“Die teenwoordigheid van die Heilige Gees het alles besonders gemaak, en samewerking was uitstekend,” vertel Martie. As afsluiting is Because He Lives gesing, waartydens almal hulself in die musiek ingeleef het.

Ten spyte van die uitdagings met tyd en die omgewing, het die groep kalm gebly en professioneel voortgegaan.
Martie bevestig dat, hoewel verdere beplanning vir volgende jaar nodig is, hierdie geleentheid beslis weer op die kalender sal verskyn.



