Die mense het gepraat – en hulle was mal oor die Vleisfees
Feesgangers het die Sionspoort Vleisfees as ’n groot sukses beskryf, terwyl organiseerders reeds planne beraam om volgende jaar se fees nóg beter te maak.
Vir baie feesgangers was vanjaar se Sionspoort Vleisfees by Tuinhekkie meer as net ’n dag uit – dit was ’n geleentheid om saam met familie en vriende te kuier, lekker kos te geniet en die Wesrand se gemeenskapsgees te ervaar.
“Daar was vrek baie mense van vroeg tot laat, dit was een amazing dag gewees,” het Candice van der Westhuizen gesê.
Chellieq Jansen van Vuuren het die sentiment opgesom met: “Dit was ongelooflik lekker,” terwyl Sunette Smith die fees as “’n lekker familie- en vriende-kuierdag” beskryf het.
Ook die organisasie het indruk gemaak. Daleen van der Walt het gesê: “Baie dankie Sionspoort! Well organised!” Cecile Schroeder het weer spesifiek die kos uitgesonder en gesê: “Lekkerste pap en kaiings wat ons nog ooit geëet het.”
Volgens Letisia Swart was die vermaak van hoogstaande gehalte. “Wat ’n awesome fees en kuier. Skemer, julle was amazing,” het sy gesê.
• Lees ook: A meat lover’s dream: Saturday afternoon in pictures at the Vleisfees

Duisende besoekers
Hoewel die organiseerders nie ’n presiese bywoningsyfer kon verskaf nie, sê Appel Ernst, mediabestuurder van die Vleisfees, was daar deur die loop van die dag ’n konstante in- en uitvloei van duisende besoekers tot laat in die aand.
“Dit is duidelik dat die Wesrand-gemeenskap die fees geniet,” sê Ernst.
Die fees het egter besoekers van veel verder as die Wesrand gelok, met mense van onder meer Pretoria, die Oosrand, Vereeniging en Noordwes. Volgens Ernst het selfs kuiergaste so ver as Mosselbaai die fees besoek.
“Die fees is ’n kuiergeleentheid waar oud-inwoners en vriende weer bande optel,” sê sy.

Gemeenskap en vermaak
Vir die organiseerders was een van vanjaar se grootste hoogtepunte die entoesiasme waarmee mense die dag aangepak het, asook die algemene gesindheid van uitstallers en die goeie gees wat deur die fees geheers het.
Van die nuwe of uitgebreide trekpleisters wat besonder goed ontvang is, was die groter mallemeule, ’n Formule Een-simulator, die vars verhoogprogram en die gehalte van die kos. Die AGA Gauteng Boogskietkampioenskap het ook groot belangstelling geniet.
Die fees het vanjaar ongeveer 300 stalletjies gehad, met uitstallers wat ’n verskeidenheid produkte en dienste aan die publiek gebied het. Onder die uitstallers was ook niewinsgewende organisasies wat die geleentheid gebruik het om fondse te genereer.
• Also read: IN FOTO’S: Vleisfees laat die kole behoorlik brand in Randfontein
Volgens Ernst is die Vleisfees egter nie net ’n vermaaklikheidsgeleentheid nie, maar ook ’n poging om die plaaslike gemeenskap te ondersteun.
“Ons hoop dit word gesien as ’n opregte poging tot barmhartigheid van Sionspoort-gemeente, wat ’n platform wou skep vir kleiner instansies en organisasies,” sê sy.
Die organiseerders hoop verder dat die fees inwoners van Randfontein nader aan mekaar bring en terselfdertyd as ’n toonvenster dien vir die gehalte en talent wat die dorp en sy mense bied.

’n Jaar se beplanning
Hoewel die Vleisfees vir besoekers soos een groot dag se pret lyk, begin die voorbereiding reeds ongeveer ’n jaar vooruit.
Ernst beklemtoon dat dit ’n gemeenteprojek is sonder werknemers, met geloof en passie as die dryfvere agter die mense wat by die fees betrokke is.
Vanjaar het die fees ook volgens die organiseerders verskeie mylpale bereik, waaronder meer krokodil op die spit, ’n groter aantal uitstallers en ’n groter kinderarea.
Die terugvoer van besoekers en uitstallers was volgens Ernst “oorweldigend goed”, met spesifieke lof vir die organisasie, die gehalte van die kos, voldoende badkamergeriewe en die kwaliteit van produkte wat deur uitstallers aangebied is.

Wat van volgende jaar?
Die organiseerders sê hulle wil voortbou op vanjaar se sukses en steeds goeie vermaak teen billike pryse aan die gemeenskap bied.
Ernst sê die komitee streef daarna om elke jaar op die vorige fees voort te bou en voortdurend te verbeter. Alle fasette van vanjaar se fees sal tydens die komitee se volgende vergadering deeglik geëvalueer word.
“Indien daar bevind word dat daar iets was wat nie aan die komitee se hoë standaarde voldoen het nie, sal dit bespreek word, waarna die nodige aanpassings vir volgende jaar gemaak sal word,” sê Ernst.
Vir die organiseerders bly die fokus dus eenvoudig: om ’n fees te skep waar mense kan saamkuier, plaaslike organisasies en ondernemings kan groei en die gemeenskap van Randfontein en die breër Wesrand iets het om na uit te sien.



