Schools

Afknouery in die kollig na voorval by RAM

Laerskool Randfontein sowel as die Gautengse onderwysdepartement het op 'n boelievoorval gereageer.

Afknouery is steeds ‘n werklikheid in ‘n opvoedkundige omgewing en die Gautengse onderwysdepartement waarsku skole dat dit nie geduld sal word nie.

Die waarskuwing kom ná ’n onlangse boelievoorval by Laerskool Randfontein (RAM).

Steve Mabona, departementele woordvoerder, het bevestig hulle is bewus van die voorval wat plaasgevind het en sê die nodige dissiplinêre stappe is geneem.

Hy noem verder dat een leerder skuldig bevind is en dat hy twee weke se detensie sowel as ‘n finale waarskuwing as straf ontvang het. Hy het bygevoeg dat hul Psigo-Sosiale Ondersteuningspan ook gevra is om alle betrokke partye by te staan.

“Die departement het ‘n nul-verdraagsaamheidsbeleid vir afknouery of enige vorm van wangedrag. Enige persoon wat bevind word dat hy hierdie beleid oortree, sal hanteer word in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Skolewet se gedragskode, wat alle skole beheer. Skole word aangemoedig om hul gedragskode te implementeer om afknouery en ander dissiplinêre sake te hanteer. Ons vra ouers om die departement te help om dissipline by die leerder te vestig, binne en buite die skoolomgewing,” het Mabona gesê.

Skoolhoof by RAM, Leon Haupt, het bevestig dat daar ‘n voorval voorskool op 9 Oktober tussen drie graad vyf leerders was. Hy het verder verduidelik dat dit as ‘n verbale dispuut begin het wat later daartoe gelei het dat twee van die seuns mekaar ‘rondgeruk en geslaan het’. Ander leerders het die bakleiery gestop en dit by personeel aangemeld. Hy het bygevoeg dat die bestuur van die skool die nodige dissiplinêre stappe geneem het.

“Alle bekommerde partye se ouers is gekontak en weens die aard van die oortreding is al drie seuns vir ‘n dissiplinêre verhoor gedaag. Die beheerliggaamvoorsitter en ondervoorsitter het die verhoor gelei. Alle betrokkenes is die geleentheid gebied om hul weergawe van die voorval te vertel waarna die dissiplinêre komitee ’n uitspraak gemaak het met inagneming van al die getuienis en die kamera-opname van die voorval. Die volledige verslag is reeds op 25 Oktober aan die onderwysdepartement en distriksdirekteur gestuur,” het Haupt gesê.

Hy het verder gesê dat RAM in alle gevalle streng teen enige vorm van bakleiery of boeliegedrag wat op die terrein plaasvind, optree.

“Daar word in alle gevalle streng volgens die gedragskode gehandel. Die skool het reeds hierdie jaar verskeie sprekers waaronder Ivor Swartz by die skool gehad om met die leerders te handel oor boeliegedrag en dit wat daartoe aanleiding gee. Die skool se voltydse berader word ook betrek indien dit sou nodig wees om leerders emosioneel te ondersteun. Personeel en leiers is voorskool, tydens pouses en naskool aan diens om goeie toesig oor ons leerders uit te oefen.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button