Schools

RAM verwelkom talle nuwe personeel

Die nuwe groep personeel van Laerskool Randfontein deel hul aspirasies en meer.

Laerskool Randfontein verwelkom graag talle nuwe personeellede wat vanjaar by die skool aansluit.

Skoolwoordvoerder Annie Nolan sê die nuwe personeel het onder meer gedeel waar hulle vandaan kom en wat hul aspirasies as onderwysers is.

Wynand Krynauw, nuwe onderwyser wat Natuurwetenskappe en Tegnologie (NWT) vir graad ses aanbied, het gesê hy kom oorspronklik van Sishen in die Noord-Kaap. Hy het gekies om by RAM skool te gee met die hoop om ‘n ‘uitstekende toekoms’ vir homself en sy seun te skep. Sy doelwit is om ‘n 100%-slaagsyfer te behaal en sportspanne af te rig wat ‘briljant presteer’ en leerders ‘soos ‘n pyl na hul teikens laat skiet’. Vir hom is veiligheid, liefde, dissipline en lojaliteit aan mekaar asook geloof belangrik.

Wynand Krynauw. Foto ingestuur.

Die skool het ook vier nuwe onderwysstudente wat by hulle aansluit. Suné Barnard, Liane van der Walt, Henro van Coller en Marco Botha is al vier van Randfontein. Henro en Marco is selfs oud-Rammies.

Suné het gesê sy het die skool gekies vir die gees en omdat die RAM-familie haar tuis laat voel. Sy hoop om ‘n goeie onderwyser te wees en kyk op na die skoolhoof, Leon Haupt. Sy het ook genoem dat ‘n bos blomme altyd waardeer word.

“Om te leer oor selfdissipline en persoonlike verantwoordelikhede en om die beste weergawe van myself te wees. Ek wil elke dag ‘n verskil in ‘n kind se lewe maak,” het Liané gesê.

Vir haar is die beste geskenk as iemand in haar glo en vir haar baie liefde en ondersteuning gee.

Henro het bygevoeg, “Ek wil leerders help en motiveer om na die beste van hul vermoë te presteer, nie net akademies nie, maar ook in sport.”

Vir hom is goeie samewerking en ondersteuning, asook ‘n stukkie biltong, die beste geskenk.

Marco het gesê hy wil graag teruggee aan die gemeenskap wat hom help vorm het.

“’n Lekker stukkie biltong of vla doen wondere vir ’n gemoedstoestand,” het hy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button