Schools

RAM laat nie toe dat die koue hul kaskarpret bederf

Laerskool Randfontein se leerders, ouers en onderwysers het almal tonne pret gehad tydens hul Kaskardag, met die doel om fondse in te samel vir die skool se terrein.

Laerskool Randfontein het onlangs hul leerders bederf met ’n Kaskardag om die kwartaal op ’n hoë noot af te sluit.

Skoolwoordvoerder Annie Nolan het vertel dat Kaskardag die skool se grootste fondsinsameling van die jaar is. Die fondse word gebruik om die skoolterrein in stand te hou en op te knap.

Keagile Mokoena, Zuney Bietje en Marco Botha. Foto ingestuur.

Die belangrikste doel van die dag was egter om pret te hê. Die tema was kleure van die reënboog, en beide leerders en onderwysers het kreatief geraak om dié kleurvolle konsep uit te beeld.

Reeds die week voor die groot dag het leerders begin oefen, veral die graad eentjies, wat nie kon wag om deel te neem nie.

“Die leerders het dit vreeslik geniet, en ouers was ook betrokke – sommiges het selfs kaskarre gestoot. Daarna het die kinders die glybane en springkastele, hoewel sonder water, ook baie geniet,” het Annie gesê.

Miandi Tromp. Foto ingestuur.

Sy het verder vertel: “Ongeag van die koue weer glo ek dat die leerders steeds die dag geniet het. Dit was koud, maar ons het kaskar gery en gespring. Graad een-ouers se woorde aan my was dat die dag ’n groot mylpaal en spesiale oomblik saam met hul kind was, al was dit koud. Hulle wou dit nie misloop nie.”

Cornel Vermaak bestuur terwyl Chanel Olivier en Zandre Herbst die kaskar stoot. Foto ingestuur.

Leerders het in graadverband teen mekaar deelgeneem en mekaar met die kaskarre uitgedaag. Die doel was om soveel as moontlik rondtes om die baan te voltooi. Groot belonings wag op die deelnemers ná die skoolvakansie.

Mike Rodgers. Foto ingestuur.

Melissa Lotti en Robbie van Coller was die hooforganiseerders van die dag se pret.

“Ons kon ongelukkig nie die weer voorspel nie, maar glo tog dat die dag ’n reuse sukses was. Dankie aan elke Rammie en ouer wat dié dag ondersteun het, asook vir bydraes tot ons fondsinsameling. Kaskardag vind gewoonlik elke jaar plaas, maar ons beplan wel iets nuuts vir volgende jaar – hou dié spasie dop,” het Annie afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Randfontein Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button