Agente stem saam
Gevolglik maak dit ons as die RLS boos om berigte van sodanige optrede te lees, want dit kan so maklik alle eiendomsagente in 'n slegte lig plaas.

• Laurence von Solms, voorsitter van Randfontein Listing Services skryf:
H. Volschenk se brief in die Randfontein Herald van 5 Julie “Huisverkopers wees op jul hoede” is voorwaar kommerwekkend.
Die Randfontein Listing Services (RLS) stem absoluut met H.Volschenk saam dat huisverkopers op hul hoede moet wees.
Maak eerstens seker dat u agent by die Raad van Eiendomsagentskapsaangeleenthede geregistreer is.
Dit is u volste reg om op ‘n bewys aan te dring dat die persoon wat u waardevolste bate wil verkoop, wettiglik geregistreer is om eiendomme te verkoop en vervolgens kommissie kan verdien.
Artikel 2 van die Gedragskode van die Wet op Eiendomsagentskapsaangeleenthede (112 van 1976) plaas ‘n algemene verpligting op eiendomsagente om die publiek se belange te beskerm, en spesifiek ingevolge Artikel 2.1 moet ‘n eiendomsagent die belange van sy kliënt te alle tye na die beste van sy vermoë beskerm, met die nodige inagneming van alle betrokke partye.
Gevolglik maak dit ons as die RLS boos om berigte van sodanige optrede te lees, want dit kan so maklik alle eiendomsagente in ‘n slegte lig plaas.
Wees verseker dat die betrokke agent definitief nie ‘n RLS agent is nie.
Die publiek word versoek om asseblief sulke gedrag aan die Eiendomsraad op www.eaab.org.za rapporteer.
Ons as RLS het ook ‘n baie streng gedragskode en ons streef om te alle tye daarvolgens op te tree en duld geen onprofessionele optrede nie.
Gevolglik nooi ons die publiek uit om na enige van die tien RLS lidkantore te gaan vir inligting en raad ten opsigte van eiendomsaangeleenthede.
Die kantore is maklik uitkenbaar aan die groot geel en swart RLS plakkers op hul vensters.