Lekker gekuier op Ellispark
Ons het gereed gemaak om 'n tweede verband op ons huis uit te neem om net 'n paar drankies te geniet, maar tot ons verbasing was die pryse baie goed en kon ons 'n drankie geniet sonder die verband.
• Rudi Visagie van Greenhills skryf:
Ek het ‘n tydjie gelede in die Randfontein Herald gelees dat ons plaaslike rugbyklub Curriebeker rugbykaartjies verkoop.
Ek is nie juis ‘n groot rugbyliefhebber nie en het nog nooit op Ellispark gaan rugby kyk nie, daarom het ek besluit om maar die kans te waag.
Ek en my vrou het toe die spotgoedkoop kaartjies by die Randfontein Rugbyklub gekoop en ons weg na Ellispark gebaan om die wedstryd tussen die Goue Leeus en die Vrystaat Cheetahs te gaan kyk.
Met ons aankoms by die stadion het ons eers by die losie ‘n draai gemaak en gekyk oor wat presies die Randfontein Losie beskik.
Ons het gereed gemaak om ‘n tweede verband op ons huis uit te neem om net ‘n paar drankies te geniet, maar tot ons verbasing was die pryse baie goed en kon ons ‘n drankie geniet sonder die verband.
Nadat ons ‘n biertjie geniet het, het ons na die stadion toe gestap en ons sitplekke ingeneem.
Kort daarna was dit tyd vir afskop en die gees wat ons daar beleef het was fantasties.
Ek het myself gate uit geniet en sal beslis weer dié stadion besoek.
Ek sal ook weer my kaartjies by Randfontein Rugbyklub koop.
Dit was byna verniet en loshande die lekkerste ervaring wat ek in maande gehad het.



