Geweld in skole ‘n probleem
Die Departement van Onderwys is hiervoor te blameer want dit is hulle wat die boeke en gedigte kies.
• Annoniem van Randfontein skryf:
Ek luister vanoggend met verwondering hoe die nuus versprei word oor die radio dat soveel “educational” sielkundiges nie kan verstaan hoekom daar so baie geweld in skole is nie.
Ek gooi maar net my hande in die lug en wonder op watter planet mense bly. Ek weet presies hoekom daar soveel geweld is.
Behalwe vir die gewone probleem van geen disipline in skole is nie, is daar een baie groter probleem.
Hoeveel ouers weet watse voorgeskrewe leesboeke en gedigte hul kinders op skool kry?
Jy as ouer, doen jouself ‘n guns, en lees ‘n bietjie die goed wat jou kind moet lees en leer.
Dis regtig skokkend.
Ek het drie dogters en het elke jaar hul voorgeskrewe boeke gelees.
Nadat mens dit lees kan jy heeltemal verstaan hoekom soveel kinders sielkundige probleme het, aan depressie ly, selfmoord wil pleeg en geweldadig is.
Die gedigte gaan 90 persent van die tyd oor apartheid wat niks met ons kinders te doen het nie, om eerlik te wees, nie eers met ons generasie nie. Hier is geweld betrokke.
Die res is belaglike goed soos hoe ‘n vrou op haar toilet sit. Ek noem dit nie Poësie nie.
Die boeke is om van naar te word.
Voorbeelde van dié boeke sluit goed in soos ‘n Afrikaanse boek wat in ‘n Kaapse-hottentot – taal geskryf is.
Dis nie Afrikaans nie, die hele boek is “Slang”, gevloek en die Here se naam word ydelik en in elke paragraaf gebruik – en dan wonder almal hoekom ons kinders nie kan spel nie.
‘n Ander boek is deur ‘n speurder geskryf, wat in detail vertel van lyke wat hy opspoor – dis walglik, en als word in detail bespreek – onder andere ‘n seuntjie wat se kop in die grond begrawe is, sy privaatdele afgesny is, sowel as sy voete wat langs hom gevind is.
Weereens wonder almal wat met die jeug aangaan.
Die Engelse voorgeskrewe boek vir matrieks is “Lord of the flies”.
Mense doen jouself ‘n guns en kyk of jy hierdie boek kan lees sonder om naar te word of depressief te raak.
Kinders wat ‘n vark lewendig slag, en dan later mekaar begin vermoor.
Dis absoluut belaglik dat ons kinders verplig word om sulke goed te lees – om nie eers daarvan te praat dat hulle dit moet leer om deur skool te kom nie.
Wat het geword van Kringe in ‘n Bos, en Shakespear?
Die Departement van Onderwys is hiervoor te blameer want dit is hulle wat die boeke en gedigte kies.
Ouers, wees meer oplettend met wat jou kind op skool leer.



