Verkeerslig op R28 ‘n gevaar
Ek wil net graag die mense van die Wesrand bewus maak van die gevaar rondom die verkeerslig in Krugersdorp.
• Bella Forster van Randfontein skryf:
Ek wil net graag die mense van die Wesrand bewus maak van die gevaar rondom die verkeerslig in Krugersdorp. Die een op die R28 waar jy links draai na McDonalds en regs na Azaadville.
Ongeveer 9-uur Saterdag-aand was ek oppad na Randfontein en is by dié verkeerslig van my handsak met heelwat kontant en duur juwele in, beroof.
Nadat die verdagte my ruit uitgeslaan het en my handsak gesteel het, het hy soos mis voor die son verdwyn. Die verdagte het in die mynhope ingehardloop en was binne sekondes nie meer sigbaar nie.
Terwyl ek daar gestaan het, het ‘n polisievoertuig verby my gery. Ek het my toeter gedruk, maar hy het nie eers belanggestel om te stop nie.
Sondag-oggend het ek my vriend na die toneel geneem. Hy het die area ondersoek en op my en twee ander vrouens se handsakke afgekom. Dit is duidelik ‘n bewys dat dit gereeld gebeur.
Daarom doen ek ‘n beroep op die SAPS om dié area te monitor, dit is duidelik dat daar ‘n probleem is.
Ook doen ek ‘n versoek op juweliers en tweedehandse winkels om op die uitkyk te wees vir my gesteelde goedere.
Ek het in die proses ‘n baie duur diamantring, ‘n silver kroon en ketting, twee Saint Christophers en ‘n silwer en goue R5 stuk verloor.
Dié goed se waarde is ongeveer R25 000.



