Slaggate, ‘n reuse kopseer
Hoekom kan die munisipale werkers nie net die moeite doen om al die slaggate in dié pad te herstel nie.
• Johan Cronjé van Randgate skryf:
Vir die afgelpoe paar weke lees ek weekliks in die Randfontein Herald talle briewe van inwoners wat kla oor die slaggate en die kopseer wat dit veroorsaak, maar steeds sien ek nie ‘n drastiese verandering nie.
Dit wys net weer dat die Randfontein Plaaslike Munisipaliteit nie regtig omgee om hul werk te doen nie.
Ek het op verskeie plekke in Randfontein gesien dat sommige slaggate herstel is, maar wat my verstand te bowe gaan is die feit dat die stadsraad se werkers in een straat sommige slaggate herstel en net ‘n blok verder nie eers ‘n poging aangewend het om die probleem aan te spreek nie.
Dit is vir my onaanvaarbaar. Ek meen hulle is in die area en maak duidelik van die slaggate reg.
Hoekom kan die munisipale werkers nie net die moeite doen om al die slaggate in dié pad te herstel nie.
Ek dink byvoorbeeld aan Marketstraat net bokant Laerskool Rapportryer waar daar een blok van die pad se slaggate gevul is met teer en die res van die straat steeds vol slaggate is.
Ek doen dus ‘n beroep op die munisipaliteit om hul beplanning reg te kry en elke straat in Randfontein van bo tot onder te herstel voor hulle na die volgende straat toe beweeg.



