Nog slaggate
Die munisipaliteit is vinnig om ons krag af te sit wanneer hulle lus is, maar wanneer dit kom by die instandhouding van paaie, dan doen hulle net dit wat absoluut nodig is.
• Manie Cronjé van Randfontein skryf:
My kind is ‘n leerling by Laerskool Rapportryer in Langermanstraat en in die oggende wanneer ek hom by die skool gaan aflaai is dit so ‘n groot probleem om tussen die verkeer en al die slaggate in Marketstraat deur te wurm siende dat daar nie genoeg spasie is om te bestuur nie.
Dan om dinge verder te belemmer is die hele straat vol slaggate. Ouers parkeer ook in die middae langs die pad in Marketstraat wat dan lei tot ‘n tekort aan spasie vir twee karre om in teenoorgestelde rigtings te beweeg.
Nou dit is nie ‘n probleem vir my as ouer om ‘n rukkie te staan en wag vir aankomende verkeer nie, maar sodra jy uitswaai vir ‘n kar van voor af dan beland jy in ‘n slaggat.
Dit is vir my heeltemaal onaanvaarbaar.
Die munisipaliteit is vinnig om ons krag af te sit wanneer hulle lus is, maar wanneer dit kom by die instandhouding van paaie, dan doen hulle net dit wat absoluut nodig is.
Ja ek het opgemerk dat die stadsraad verskeie slaggate in die area regmaak, maar die slaggate moet in alle areas herstel word.
Ek stel voor hulle herstel die stuk pad rondom die skool so gou moontlik, want ek sidder om te dink wat kan gebeur as ‘n ouer uitswaai vir een van dié gate en ‘n leerling raakry.
Ek is seker ek is nie die enigste ouer wat voel die pad is in ‘n patetiese kondisie nie, daarom doen ek ‘n beroep op ons plaaslike munisipaliteit om die gate in Marketstraat te herstel voor dit ly tot ernstige beserings of skade.



