Afrikaans het steeds plek by die NWUOFAfrikaans se dae by NWU nie getel nie
'Die betrokke persoon wat aangehaal word, gee Afrikaans nog net 'n paar jaar as universiteitstaal. Ons verskil met dié voorspelling.'

• Prof Johannes Froneman, woordvoerder van die visekanselier van die Noordwes-Universiteit, skryf:
U haal onlangs ‘n berig oor Afrikaans Donker prentjie vir Afrikaans geskets op die Noordwes-Universiteit aan.
Die betrokke persoon wat aangehaal word, gee Afrikaans nog net ‘n paar jaar as universiteitstaal. Ons verskil met dié voorspelling.
Ons visekanselier, prof Dan Kgwadi, het onlangs genoem dat die NWU drie amptelike tale het – Afrikaans, Engels en Setswana – met Sesotho op ons Vaaldriehoek-kampus as bykomende werkstaal.
Hy het bygevoeg: “Al vier tale word wel vir sekere interne kommunikasie en vir kampusaanwysings- en kennisgewingborde gebruik, hoewel nie op al drie kampusse en in elke geval nie.
“Op die Potchefstroom-kampus is kampusaanwysings wel in drie tale. Afrikaans word tans primêr in die lesinglokale van die Potchefstroom-kampus gebruik, maar sommige klasse word wel in Engels aangebied.
“Toeganklikheid word verseker deur parallelmedium-, dubbelmedium- en enkelmediumklasse, asook deur gebruikmaking van opvoedkundige tolking (na Engels en Afrikaans), want ons taalbeleid bepaal dat ons aanpasbaar volgens taalbehoeftes en heersende omstandighede moet wees.
“Modules waar Engels-verkiesende studente teenwoordig is, is dus in Engels toeganklik. Tolkdiens na Setswana word op beperkte skaal vir BEd Grondslagfaseklasse op die Potchefstroom-kampus aangebied.
“Die onderrigtaal by die Mafikeng-kampus is oorwegend Engels. Op die Vaaldriehoek-kampus word Afrikaans en Engels op eerstejaarsvlak gebruik en daarna word klasse net in Engels aangebied. Die taalbeleid word dus op elke kampus verskillend toegepas na gelang van die omstandighede.”
Ons hersien eersdaags die beleid, maar voorsien nie dat dit wesenlik sal verander nie. Afrikaans het ‘n belangrike plek op ons Potchefstroom-kampus. Ons is nie van plan om dit te verander nie. Los praatjies oor die einde van Afrikaans by die NWU is dus misplaas.



